Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Jennings: 'SA se krieketstelsel ’n ramp'
Ray Jennings sê skolekrieket word ontwrig deur politieke voorskrifte en dat verskeie talentvolle jong spelers gevolglik oorsee hul heil gaan soek.Foto: Gallo Images

Wow”.

Dit is volgens die eertydse nasionale krieketafrigter Ray Jennings ’n woord wat al hoe meer gebruik word om te beskryf wat in Suid-Afrikaanse krieket aangaan.

En dié “wow” is meer om ’n gevoel van skok as opwinding uit te druk.

“Daar is ‘wow’ gesê toe ons die tuisreeks teen Sri Lanka verloor het en nou is dit weer gesê oor wat in Indië gebeur het, veral met ons kolwers wat selfs deur hul snelboulers teen die kop geboul is.”

Net soos wat nou die geval met Enoch Nkwe is, was Jennings in die 2004-’05-seisoen die tussentydse afrigter van die nasionale span.

Sy eerste toer was ook na Indië, gevolg deur ’n tuisreeks teen Engeland en toe ’n wegtoer na die Wes-Indiese Eilande.

Sou Nkwe só lank oorleef as breier, sal hy presies dieselfde paadjie volg.

Jennings het daardie eerste toer van twee toetse na Indië met 0-1 verloor, toe met 1-2 hier teen Engeland en het die reeks in die Windies gewen, maar het daarna die trekpas gekry.

“Ek het eintlik met ’n veel swakker span as Enoch na Indië gegaan. My voorste draaier was Justin Ontong en Hashim Amla van alle mense was my tweede draaier,” sê hy. Hy moes selfs van die veelsydige Andrew Hall as aanvangskolwer gebruik maak.

Jennings glo die skrif is aan die muur in elke opsig waar Krieket Suid-Afrika (KSA) betrokke is.

“Die vraag moet ook gevra word of Enoch behoorlik as afrigter van ’n nasionale span geslyp is. Is dit nie nou onregverdig teenoor hom nie?

Volgens Ray Jennings is Geoff Toyana deur die SA krieketstelsel uitgespoeg en hy wonder of dit ook die lot gaan wees van Enoch Nkwe, wat aan die stuur van die Proteas se rampspoedige Indiese toer was.Foto: Gallo Images

“Enkele jare gelede is Geoffrey Toyana as die kroonprins van swart afrigters beskou. Nou is hy net uit die stelsel gespoeg. Gaan dieselfde met Enoch gebeur?” vra Jennings.

“Moes hy nie eerder vir twee jaar as hulpafrigter onder Ottis Gibson as hoofafrigter gewerk het nie? Hy moes ook nou goeie en ervare afrigters om hom gehad het om te help.

“Die Suid-Afrikaanse krieketstelsel is ’n ramp. Daar word nou na die spelers en die span gekyk en hoe vrot hulle is, maar gaan soek die oorsaak vir alles by die stelsel.

“Van skoolvlak af, waar ek nou baie betrokke is, word sake pateties hanteer. Soveel goeie jong spelers gaan verlore in hierdie stelsel. Skolekrieket word heeltemal deur politieke voorskrifte ontwrig.

“Die lys van goeie afrigters wat oorsee moes gaan, is nimmereindigend. ’n Gary Kirsten stel nie eens belang om hier (op nasionale vlak) af te rig nie. Ook nie Jacques Kallis nie. Hoekom? Alles kom terug na hoe KSA die stelsel bestuur.

“Spelers word té gou by die nasionale opset ingestoot en is nie gereed om sake te hanteer nie.

Sy kolfgemiddeld op die Cubs-week was omtrent 150, maar dan haal hy nie eens die nasionale o.19-span nie. Gevolglik gaan soek hy sy heil oorsee.
Ray Jennings

“Jy kry ’n wonderlik belowende speler soos Leus du Plooy (oorspronklik van die Vrystaat) en sy kolfgemiddeld op die Cubs-week (franchises se o.19-week) was omtrent 150, maar dan haal hy nie eens die nasionale o.19-span nie. Gevolglik gaan soek hy sy heil oorsee. Dit gebeur met talle spelers.”

“Selfs in die raadsale het van die administrateurs met kennis die pad gevat. Kyk selfs na ons kolfblaaie en hoe hulle in die laaste paar jaar agteruitgegaan het. Die Wanderers-blad met die toets daar teen Indië (in 2018) was skokkend.

“Al hierdie dinge bou op en kom uit in die spel van die Proteas. Die frustrasie bou op in ’n Aiden Markram, Kagiso Rabada en Quinton de Kock en gee gestalte in hoe hulle optree.

Temba Bavuma

“Daar is selfs nou verwarring oor die kapteinskap. Slegs 18 maande gelede is Markram beskou as die volgende kaptein, nou lyk dit na Temba Bavuma.

“Markram en Faf (du Plessis) was naby aan Ottis en watter uitwerking het dit op hulle gehad toe hy net weggegooi is?

“In SA krieket word nie oor die spel self en taktiek gepraat nie, maar eerder hoe die balans in die span reggekry moet word om die politici tevrede te stel. Jy kan mos nie dit as jou belangrike aspek hê en die spel agterweë wil laat nie,” sê Jennings.

Meer oor:  Ray Jennings  |  Temba Bavuma  |  Enoch Nkwe  |  Suid-Afrika  |  Krieket  |  Skok  |  Ksa  |  Oud-Afrigter  |  Kapteinskap  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.