’n Vurige boulskof aan die begin deur Suid-Afrika se Shabnim Ismail het die Sydney Thunder-span gehelp om die Melbourne Stars met sewe paaltjies te klop in die eindstryd van die Big Bash-liga vir vroue.

Shabnim Ismail vier die gesogte paaltjie van Meg Lanning. Foto: Getty Images
Die Stars, pasaangeërs in die liga, se 86/9 Saterdag in Sydney was die laagste telling nog in ’n eindstryd.
Dit kon minder gewees het, want daar was vyf verbroude vangskote in die kolfbeurt. Die handvol blapse het die wenspan darem nie in die hakskeen kom byt nie.
Sydney Thunder het met 87/3 in 13.4 beurte geantwoord.
Die 32-jarige Ismail is as Speler van die Wedstryd aangewys vir haar 2/12.
Sy het van albei aanvangskolwers, die Australiese kaptein, Meg Lanning (13) en Elyse Villani (1) ontslae geraak.
Sy is goed bygestaan deur die ander aanvangsbouler, Sammy-Jo Johnson (2/11), wat die paaltjie van Suid-Afrika se Mignon du Preez (4) gekry het.