Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
SA t. Engeland: Kollig oplaas weer op krieket

Ná amper nege maande waartydens die fokus in Suid-Afrikaanse krieket hoofsaaklik op raadsaal-skandes en die Black Lives Matter-protesaksie was, kry die Proteas Vrydag uiteindelik die kans om weer internasionale krieket te speel.

Die Proteas se kaptein, Quinton de Kock, oefen op Nuweland. Foto: Gallo Images

Die Proteas sal Engeland dan in die eerste van drie T20-wedstryde op Nuweland in Kaapstad pak.

Die probleme van die veld af in Suid-Afrikaanse krieket het dié week gedreig om nogmaals die gebeure op die veld te oorskadu.

Die Fundudzi-verslag oor wanadministrasie binne Krieket Suid-Afrika (KSA) is ná maande se gesloer uiteindelik Woensdag volledig bekend gemaak, terwyl die Proteas toe ook ’n lang mediaverklaring uitgereik het waarin hulle hulself opnuut verbind tot die stryd teen rassisme, maar ook benadruk dat hulle nie in dié reeks in solidariteit met die BLM-beweging gaan kniel nie.

Dié verklaring het gevolg nadat die Proteas in sekere publikasies onder kritiek deurgeloop het omdat hulle nie gaan kniel nie.

Die Proteas het aangekondig dat hulle wel swart armbande sal dra om hul steun aan die stryd teen geslagsgeweld te toon.

Die Engelse kaptein, Eoin Morgan, het bevestig dat sy span ook swart armbande sal dra.

Maar terug op die veld.

Die Proteas se kaptein, Quinton de Kock, het Donderdag gesê hy verwag ’n baie mededingende reeks.

“Engeland is ’n span propvol impakspelers, maar ons het goed met hom meegeding toe ons aan die begin van die jaar gespeel het,” sê De Kock.

Ek sal graag ’n paar groot beurte wil speel, maar my sukses in vanjaar se Indiese Premierliga (IPL) verseker nie dat ek lopies in dié reeks sal kry nie.
Quinton de Kock

Dit was ’n fantastiese reeks, met albei spanne wat baie goeie krieket gespeel het.

“As ek nou na die twee spanne kyk, glo ek dat dit weer ’n uiters mededingende reeks gaan wees,” sê Suid-Afrika se paaltjiewagter en aanvangskolwer in witbalkrieket.

Die Proteas het in Februarie die T20-reeks teen Engeland met 1-2 verloor, maar al drié kragmetings het vir naelbyt-krieket gesorg.

De Kock se persoonlike peil sal ook ’n groot rol in die Proteas se sukses, al dan nie, in die komende reeks speel.

“Ek sal graag ’n paar groot beurte wil speel, maar my sukses in vanjaar se Indiese Premierliga (IPL) verseker nie dat ek lopies in dié reeks sal kry nie.”

De Kock was een van die sterre vir die Mumbai Indians, die uiteindelike kampioen in die onlangse IPL.

Die Proteas gaan waarskynlik swaar op hul gevaarlike boulaanval moet staatmaak om die wa deur die drif te trek.

Kagiso Rabada, Lungi Ngidi, Anrich Nortjé en Tabraiz Shamsi is almal wedstrydwenners uit eie reg.

Rabada en Nortjé se giftige snelballe was ook een van die hoofredes waarom die Delhi Capitals die eindstryd in vanjaar se IPL gehaal het.

Gegewe die kolftalent in die Engelse geledere, gaan die Proteas se boulaanval nietemin op sy stukke moet wees.

Jason Roy, Jos Butler, Morgan en Ben Stokes is van die grootste name in witbalkrieket en hulle was ook die ruggraat van die Engelse span wat verlede jaar die Wêreldbeker-toernooi in eendaagse krieket gewen het.

Volgens ESPNcricinfo is Engeland onoorwonne in sy afgelope sewe T20-reekse. Hy het ses van dié reekse gewen en een gedeel (met Pakistan). Dít wys hoe groot die uitdaging voor die Proteas lê.

Die tweede wedstryd in die reeks word Sondag in die Paarl gespeel voordat die spanne Dinsdag na Nuweland vir die laaste stryd in die T20-reeks terugkeer.

TV: 18:00 op SS Grandstand (201), SS Cricket (212) en GDN.

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Krieket  |  Eoin Morgan  |  Kagiso Rabada  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.