Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
'SA toestande kan Indië onderkry'

Hulle het in Virat Kohli ’n wêreldklaskolwer, maar nietemin kan Indië gepootjie word deur die feit dat hy so lanklaas in toestande gespeel het wat met die van die subkontinent verskil.

Dís die mening van die voormalige Protea-kaptein Graeme Smith, oor die toetsreeks teen Indië waarmee Suid-Afrika 2018 vroeg aanstaande maand sal afskop.

Virat Kohli / Foto: Getty Imges

Indië het ’n rekord geëwenaar deur al nege sy laaste toetsreekse te wen, maar dis reeds amper drie jaar sedert hulle laas in kolftoestande wat met dié van Suid-Afrika vergelyk kan word, gespeel het. Dit was toe hulle in die 2014-’15-seisoen in Australië was.

Hulle het sedertdien net in Indië, Bangladesj, die Wes-Indiese Eilande (waar toestande heelwat ooreenkom met dié van die subkontinent) en Sri Lanka toetse gespeel.

“Die vaart en vaardighede van ons boulers hier sal nou die werklike toets vir hulle wees. Dit gaan baie interessant wees.

“Indië se eie naataanval sal ook moet goed doen indien hy sukses hier wil behaal,” sê Smith.

Die drie toetse word in Kaapstad, Centurion en Johannesburg beslis.

“Veral Nuweland (waar die eerste toets op 5 Januarie begin) gaan die tyd van die jaar droog wees.

“Ek dink hulle sal dalk net een draaier in die toetse in plaaslike toestande inspan.”

Ravichandran Ashwin en Ravindra Jadeja, wat Suid-Afrika in 2015 in Indië kis geboul het, was in die afgelope reeks teen Sri Lanka weer die span se voorste boulers.

Smith gaan as kommentator in die kitsreekse tussen Indië en Sri Lanka meer van die Indiese spelers te siene kry.

Kohli, wat luidens berigte aanstaande week in Italië voor die kansel gaan staan, gaan nie weer in dié reeks uitstap nie omdat hy vir die eerste keer in sowat vier jaar ’n blaaskans van krieket gaan neem.

Kohli het met altesaam 610 lopies geskitter in sy vyf kolfbeurte in die afgelope toetsreeks teen Sri Lanka. Dit het ’n nulletjie maar ook ’n loopbaanbeste telling van 243 ingesluit.

Hy het sy nulletjie in die eerste toets in Kolkata met 104* opgevolg. Ná ’n telling van 213 in sy enigste kolfbeurt in die tweede toets in Nagpur het hy ook in die eerste beurt in Delhi ’n dubbele honderdtal (daardie 243) aangeteken. ’n Vyftigtal in die tweede beurt het hom oor die 1 000-kerf vir 2017 gedruk en hy is nou tweede op die wêreldranglys vir toetskolwers.

Kohli sal dus in die komende reeks teen Suid-Afrika daarop uit wees om die eerste plek syne te maak. Hy beklee reeds die voorste posisie op die eendag- en T20-ranglys.

Die Australiese kolwer Ricky Ponting is die enigste kolwer wat in ’n stadium die voorste plekke in al drie formate beklee het.

Kohli het in Januarie 2015 in Sydney, Australië laas ’n toets gespeel in kolftoestande wat met die in Suid-Afrika vergelyk kan word. Hy het in daardie toer met vier honderdtalle gewys hy kan die nodige aanpassing op vinniger kolfblaaie doen. Sy 692 lopies in die vier toetse was die tweede meeste in die reeks. Kohli het ook in 2012 op die Wanderers 119 en 96 in die eerste van sy twee toetse tot dusver in Suid-Afrika aangeteken.

Nuutste toetsranglyste:

Kolwers:

1 (-) Steve Smith (Aus) 938

2 (+3) Virat Kohli (Ind) 893

3 (-) Joe Root (Eng) 879

4 (-2) C. Pujara (Ind) 873

5 (-1) Kane Williamson (NS) 865

6 (-) David Warner (Aus) 815

7 (-) Hashim Amla (SA) 795

8 (-) Azhar Ali (Pak) 755

9 (+8) D. Chandimal (SL) 743

10 (-) Dean Elgar (SA) 732

Boulers:

1 (-) James Anderson (Eng) 894

2 (+1) Kagiso Rabada (SA) 876

4 (-) R. Ashwin (Ind) 829

5 (-) Rangana Herath (SL) 799

6 (-) Josh Hazlewood (Aus) 786

7 (+2) Neil Wagner (NS) 785

8 (+2) Mitchell Starc (Aus) 775

9 (-2) Nathan Lyon (Aus) 774

10 (-2) Dale Steyn (SA) 748

Meer oor:  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.