Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
SA vroue maak goeie werk byna ongedaan

Suid-Afrika se vroue-krieketspan het Woensdag op sy ervare spelers gesteun om die eerste eendagwedstryd teen Pakistan op Kingsmead in Durban te wen.

Dit was egter so hittete of die Proteas se swak vangwerk en veldwerk het die eerste van drie eendagwedstryde aan die besoekers besorg.

Nahida Khan, aanvangskolwer van Pakistan, word Woensdag uitgehardloop ná ’n ingooi deur Shabnim Ismail met Trisha Chetty wat die balkies betyds gelig het. Foto: Gallo Images

Die Proteas het die wedstryd uiteindelik met net drie lopies gewen ná ’n terugvegpoging deur die toerspan.

’n Uitstekende vertoning met die bal en kolf deur Shabnim Ismail en ’n goeie vennootskap van 64 lopies om die vyfde paaltjie deur Marizanne Kapp en Mignon du Preez was genoeg om die Suid-Afrikaners oor die wenstreep te kry.

Dit was egter duidelik aan die vertoning dat Suid-Afrika in Maart verlede jaar laas internasionale krieket gespeel het en dat die span verroes was.

Die afrigter, Hilton Moreeng, gaan hard moet werk voor Saterdag se tweede wedstryd – ook op Kingsmead.

Suid-Afrika het eerste gekolf en het danksy goeie vertonings deur Laura Wolvaardt (40), Kapp (47) en Du Preez (29) ’n mededingende totaal van 200/9 aangeteken. Ismail het teen die einde 20 van 20 balle geslaan.

Die tuisspan se boulers was in beheer van sake vir die oorgrote meerderheid van Pakistan se kolfbeurt en toe Ismail in die 38ste boulbeurt twee paaltjies van agtereenvolgende balle geneem het, was die koeël so te sê deur die kerk.

Toe Nashra Sandhu in die 41ste boulbeurt been voor paaltjie betrap is deur Nadine de Klerk, het Pakistan op 137/8 nog 64 lopies met net twee paaltjies staande benodig.

Suid-Afrika se Shabnim Ismail word geboul tydens die eerste eendagwedstryd teen Pakistan in Durban. Foto: Gallo Images

Die Proteas het egter toe heeltemal konsentrasie verloor en toegelaat dat Nida Dar (59*) en Diana Baig (35*) met hul onoorwonne vennootskap van 60 lopies om die negende paaltjie so byna ’n oorwinning vir Pakistan (197/8) steel.

Suid-Afrika het vroeër van Ismail (3/42) se boulwerk albei die kolwers ’n lewe gegun, terwyl daar ook ’n handvol uithardloopkanse was tydens dié vennootskap.

Pakistan het uiteindelik 13 lopies van die laaste boulbeurt benodig, maar De Klerk het kop gehou en net nege lopies afgestaan.

TELKAART

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.