Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
SA witjas Erasmus bereik groot mylpaal

Dit is vir Marais Erasmus ’n baie groot oomblik om slegs die 17de krieketskeidsregter in die geskiedenis van dié spel te word om in 50 toetse te staan.

Engeland se kaptein, Joe Root, praat met Marais Erasmus tydens ’n toets teen Nieu-Seeland vroeër vanjaar. Foto: Getty Images

Die toets tussen Engeland en Indië op Lord’s in Londen, wat tans aan die gang is, is Erasmus (54) se 50ste toets as witjas.

Erasmus het die afgelope twee jaar die David Shepherd-trofee vir die Skeidsregter van die Jaar verower. Hy is boonop slegs die tweede Suid-Afrikaner naas Rudi Koertzen om in meer as 50 toetse te staan.

“Ek onthou nog my dae as ’n eersterangse krieketspeler by Boland en hoe ek daarna begin het om ’n skeidsregter te wees, wat ’n baie goeie besluit was,” het Erasmus volgens ’n verklaring van die Internasionale Krieketraad (IKR) gesê.

“Dit is ’n baie groot oomblik in my loopbaan, veral omdat ek slegs die 17de mens is om dié mylpaal in toetskrieket te behaal.

“Dit was ’n lang reis en een wat ek tot dusver ongelooflik baie geniet het.”

As ’n veelsydige speler vir Boland het Erasmus in 53 eersterangse wedstryde 1 913 lopies aangeteken en 131 paaltjies platgetrek.

Thabang Moroe, Krieket Suid-Afrika (KSA) se uitvoerende hoof, het Erasmus ook in ’n verklaring met sy mylpaal gelukgewens.

“Hy maak ons baie trots met dít wat hy bereik, insluitend sy verowering van die David Shepherd-trofee as die IKR se voorste skeidsregter vir die afgelope twee jaar,” sê Moroe.

Marais Erasmus verlede jaar tydens die Reeks om die As. Foto: Getty Images

“Hy kon ook nie vra om dié mylpaal op ’n beter veld te bereik as op Lord’s en in ’n toets tussen twee van die wêreld se grootste krieketlande nie.

“Hy word nie net geken aan sy akkurate beslissings nie, maar selfs nog meer aan sy kalm houding op die veld, waar hy toesien dat ’n wedstryd vlot verloop.

“Hy is ’n wonderlike rolmodel in die skeidsregter-gemeenskap, nie net in Suid-Afrika nie, maar oor die wêreld heen.”

Adrian Griffith, die IKR se senior bestuurder vir skeidsregters, het Erasmus vir sy bestendigheid geloof.

“Marais se gehalte en bestendigheid as ’n skeidsregter is al baie geloof oor die jare en dít het hom gehelp om dié mylpaal te bereik,” sê Griffith.

“Ek wens Marais namens almal by die IKR geluk.”

Erasmus het in 2010 sy buiging as ’n toetsskeidsregter gemaak. Hy het verlede jaar sy 100ste eersterangse wedstryd behartig.

* Geen spel was weens reën op die eerste dag van Erasmus se 50ste toets moontlik nie. Spel het egter Vrydag uiteindelik begin, met Engeland wat die loot gewen en Indië ingestuur het om eerste te kolf. – Sportredaksie

Meer oor:  Skeidsregter  |  Krieket  |  Ksa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.