Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Sagmoedige reus nou aan stuur van Titans
Mandla Mashimbyi, die Titans se nuwe hoofafrigter.Foto: Gallo Images

Die skyn bedrieg.

Hierdie gesegde kan nie meer waar wees as in die geval van die Titans-krieket se nuwe heeltydse afrigter, Mandla Mashimbyi, nie.

As jy na sy voorkoms kyk, is hy beslis nie die soort ou wat jy in ’n smal en donker stegie wil raakloop nie.

Met sy reusagtige lyf kom hy voor as iemand wat vrees by selfs hardebaarde sal inboesem.

Tog kan die term sagmoedige reus gebruik word om hom te beskryf.

Die 39-jarige Mashimbyi was ’n snelbouler op sy dag en is sedert 2013 deel van die Titans se afrigtingspan – hoofsaaklik op die agtergrond as ’n hulpafrigter.

Hy het eers daardie rol vertolk as Rob Walter se assistent, en toe later ook as Mark Boucher se regterhand.

Mandla Mashimbyi het destyds as speler geweet hoe om die langsteel in te lê. Hy het ’n hoogste eersterangse telling van 73* aangeteken en sy beste boulsyfers was 6/31. Foto: Gallo Images

Daar was diegene wat die rassekaart wou speel toe Boucher vanuit nêrens bo hom as afrigter aangestel is, en veral die uitvoerende hoof van die Titans daardie tyd, Jacques Faul, is kwaai uit sekere kringe gekritiseer omdat Mashimbyi nie die hoofafrigter geword het nie.

Halfpad deur die afgelope seisoen het hy egter sy kans gekry toe Boucher die nuwe nasionale afrigter geword het. Hoewel dit toe net as tussentydse hoofafrigter was, het Mashimbyi, ’n boorling van Phalaborwa, nou die heeltydse pos as die hoofbreier gekry.

“Dit is nie vir my regtig té verskillend as waaraan ek as die regterhand gewoond was nie,” sê Mashimbyi. “Daar is uiteraard meer verantwoordelikhede en jy moet nou al die belangrike besluite as die hoofafrigter neem.

“Ek het meer verantwoordelikheid, maar dit het my beslis nie as persoon verander nie. Ek het nou die kans om my eie visie en rigting te laat geld. Dit kan wel effe van my voorgangers s’n verskil. Ek wil meer op die menslike aspek fokus.

“My filosofie is dat beter mense beter krieketspelers is. Ek het ’n liefde vir mense en fokus eerder daarop as om spelers te kweek wat net op wen fokus.

My filosofie is dat beter mense beter krieketspelers is. Ek het ’n liefde vir mense en fokus eerder daarop as om spelers te kweek wat net op wen fokus.
Mandla Mashimbyi

“Natuurlik is die resultate belangrik, maar dit is vir my net wat dit is. As jy nie gelukkige mense het nie, gaan jy ook nie die regte resultate kan lewer nie.

“Ek wil ’n baie spesiale kultuur by die Titans skep. Spelers kan kwesbaar wees en jy moet hul belange vooropstel. Vir my gaan dit daaroor om die regte omgewing vir almal te skep sodat saamgewerk word,” sê hy.

Al lyk hy met die eerste oogopslag of hy iemand is wat geen nonsens sal duld nie, is Mashimbyi allesbehalwe ’n diktatoriaal. Hy wil hy ’n gemoedelike atmosfeer by die Titans skep waarin almal kan gedy en waarin daar harmonie al wees in die strewe om weer trofeë in die Titans se vertoonkas te laat pryk.

Meer oor:  Rob Walter  |  Mark Boucher  |  Johannesburg  |  Afrigter  |  Franchise  |  Titans  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.