Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Saskok-bom bars: ‘KSA lieg vir ons!’

Beresford Williams, Krieket Suid-Afrika (KSA) se waarnemende president, word daarvan beskuldig dat hy sy “uitdruklike belofte” om die plofbare forensiese verslag oor KSA-bestuurspraktyke aan Saskok beskikbaar te stel, verbreek het.

Beresford Williams

Dit blyk uit een van vier briewe wat Rapport gesien het ná ’n week van ’n krieket-chaos waartydens Saskok besluit het om ’n taakspan aan te stel om KSA te ondersoek. Terwyl dié onafhanklike taakspan sy maand lange ondersoek doen, eis Saskok dat KSA se raad en sekere uitvoerende beamptes op verpligte betaalde verlof gaan. KSA “stem nie saam” met die besluit nie en win regsadvies in.

Aleck Skhosana, waarnemende Saskok-president, het Vrydag in twee briewe – een aan Williams en een aan KSA se lederaad – benadruk dat hulle van plan is om in te tree, KSA se protes ten spyt.

Skhosana het gister ’n derde brief geskryf, dié keer aan die Internasionale Krieketraad (IKR) om die wêreldbeheerliggaam te verseker Saskok se intrede is nie “regeringsinmenging” nie.

Die vierde brief, wat Rapport gesien het, is Vrydag aan Saskok gerig. Hierin beskuldig vyf voormalige KSA-werknemers (Naasei Appiah, Clive Eksteen, Ziyanda Nkuta, Lundi Maja en Dalene Nolan) KSA van ’n “heksejag”.

In die eerste brief skryf Skhosana Vrydag aan Williams: “Jy het persoonlik ’n uitdruklike belofte aan ons gemaak dat die verslag op ’n onbeperkte grondslag aan ons beskikbaar gestel sal word, maar sedertdien het jy die belofte verbreek.”

Dit volg nadat KSA twee weke gelede vir Saskok om bystand genader het in ’n week waarin KSA sy jaarvergadering moes uitstel weens bestuurskwessies.

KSA
1: ’n Uittreksel uit Saskok se brief aan Beresford Williams. 2: ’n Gedeelte van Saskok se brief aan die Internasionale Krieketraad. 3: ’n Uittreksel uit die gegriefde vyf gewese KSA-werknemers se brief aan Saskok.

KSA en Saskok het die eerste keer op Dinsdag 1 September vergader, waar hulle glo “binne 48 uur” onbeperkte toegang tot die forensiese verslag beloof is. Die opvolgvergadering, op Vrydag 4 September, is kortgeknip omdat KSA nié die verslag soos ooreengekom aan Saskok beskikbaar gemaak het nie.

KSA se sekretaris, Welsh Gwaza, het Saskok toe meegedeel dat die forensiese verslag slegs aan Skhosana en die Saskok-raad beskikbaar gestel sal word – boonop met die voorwaarde dat hulle ’n vertroulikheidsooreenkoms onderteken. “Hierdie voorwaarde is onaanvaarbaar en onredelik,” skryf Skhosana.

KSA se prokureurs, Bowmans, het vroeër dieselfde voorwaarde aan die lederaad – die hoogste krieketgesag in die land, bestaande uit die 14 uniepresidente – gestel.

KSA het wel gisteraand in ’n verklaring bevestig die lederaad het gister by ’n werksessie in Johannesburg toegang verkry tot die opsomming van dié verslag, en het “robuuste gesprekke” hieroor gevoer.

In die tweede brief – Vrydag aan die lederaad – spreek Saskok sy misnoeë uit met ’n mediaverklaring waarin KSA Vrydagoggend om 01:00 gesê het die beheerliggaam, “insluitend die lederaad”, stem nie saam met Saskok se taakspan-plan nie. Sas­kok het wel volgens die Wet op Nasionale Sport en Ontspanning (Wet 110 van 1998), én Sas­kok se grondwet, die reg om in te tree.

Aleck Skhosana

Skhosana sê Saskok plaas KSA nie onder administrasie nie, en dat die taakspan onafhanklik sal wees. Die lederaad en die taakspan sal volgens hom saamwerk.

• Gister het Saskok die versekering aan die IKR gegee dat hy nie onregmatig by KSA ingryp nie.

• Saskok skryf beweringe dat sy toetrede regeringsinmenging is, is “kwaadwillig, verkeerd en beledigend”. Saskok is boonop bereid om met die IKR te vergader om sy posisie te verduidelik. ’n IKR-lidland kan vir regeringsinmenging geskors word.

In die vierde brief wat Rapport gesien het, sê vyf afgedankte KSA-werknemers hulle is “moedswillig geskors” tussen 29 Oktober en 5 Desember 2019.

Daarom het Appiah (bedryfshoof), Eksteen (hoof van borgskapsverhoudinge), Nkuta (senior bestuurder: finansies), Maja (verkrygingsbestuurder) en Nolan (Appiah se persoonlike assistent) hulle nou tot Saskok gewend om hulp.

Corrie van Zyl, KSA se voormalige krieketbestuurder, is ook op 29 Oktober saam met Appiah en Eskteen geskors, maar is ná ’n amptelike waarskuwing terug by die werk. Die ander vyf is gepos.

“Ons skorsings en gevolglike afleggings was deel van ’n heksejag om ons onregmatig uit die organisasie te verwyder,” lui die brief van ses bladsye wat hulle Vrydagaand aan Saskok gestuur het.

Die brief bespreek elke individu se griewe rondom hul tugproses in fyn besonderhede.

Die gewese Protea-draaier Eksteen benadruk byvoorbeeld opnuut dat die kommersiële ooreenkoms wat tot sy afdanking gelei het, deur sy lynhoof, Kugandrie Govender, onderteken is.

Govender is tans KSA se waarnemende uitvoerende hoof en het verlede maand aan Rapport gesê sy het te veel respek vir Eksteen om die kwessie in die media te bespreek.

Die brief se ondertekenaars beweer ook hulle het onder arbitrêre salarisaftrekkings gely, en dat daar met hulle uit die prentjie “50 jaar van institusionele geheue” verlore gegaan het – ’n verlies wat tot KSA se bedryfskwale bygedra het.

KSA het by navraag hieroor gesê: “Die regte proses is gevolg in die hantering van tugsake en ons is seker dat daar in geen fase van ons prosesse onregverdig teenoor enige van ons voormalige werknemers opgetree is nie.”

• KSA sê die klagte waarvolgens die werknemers afgedank is, was baie ernstig. Intussen verneem Rapport dat finansiële kwessies minstens gedeeltelik ’n rede is vir KSA se teësinnigheid om in te stem tot Sas­kok se taakspan-plan. Saskok het gelas dat KSA die koste hiervan moet dra.

“Hoekom moet ons die koste dra van mense wat deur Saskok aangestel is om op hul taakspan in ons kantore te sit,” het ’n KSA-raadslid Vrydag gevra.

Dié persoon verstaan nie waarom nuwe personeel, wat niks te doen gehad het met die huidige krisis nie, moet terugstaan nie. Saskok eis dat die waarnemende uitvoerende hoof, Govender, Gwaza, en die finansiële hoof, Pholetsi Moseki, terugstaan tydens die taakspan se ondersoek.

• Saskok het gesukkel om ’n vergadering met die KSA-lederaad te reël, maar dit kan moontlik vanoggend 11:00 plaasvind. Klarigheid oor die pad vorentoe sal hierna aangekondig word. KSA het gisteraand gesê die lederaad het ’n plan voorgelê oor hoe om op te tree teen “relevante partye” nadat hulle gister die opsomming van die forensiese verslag gesien het. Die lederaad het besluit om die raad verantwoordelik te hou om dié planne in werking te stel voordat die jaarvergadering gehou word. Williams het teen gisteraand nog nie op ’n navraag gereageer nie.

Sasok betrap spelers onkant

Suid-Afrika se krieketspelers is op hete kole oor Saskok se beoogde ingryping by Krieket Suid-Afrika (KSA) en die moontlike gevolge daarvan.

Andrew Breetzke, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging (Saca), het gister aan Rapport bevestig hulle was heeltemal in die duister oor Saskok se toetrede.

“Al wat die spelers wil hê, is dat krieket weer aan die gang kom. Dit is veral internasionale krieket wat belangrik is. Dit is wat die geld inbring,” sê Breetzke.

“Dis hartseer dat dinge by dié punt gekom het. Maar op ’n manier is dit nie verbasend nie, gegewe wat in die laaste paar maande gebeur het.”

Volgens Breetzke is hul grootste bekommernis die onduidelikheid rondom bedryfsake by KSA.

Hy sê daar sal oor die volgende paar maande baie werk aan die bedryfskant gedoen moet word om te verseker dat die seisoen binnekort hervat. – Leighton Koopman

    Meer oor:  Ksa  |  Krieket Suid-Afrika  |  Saskok  |  Bestuursprobleme
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.