Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Saskok grom, maar KSA staan vas

Die druk laai op, maar Krieket Suid-Afrika (KSA) se tussentydse raad is vasbeslote om sterk te bly staan.

KSA is nie van plan om ’n ommeswaai te maak oor sy nuwe akte van inlywing (grondwet) nie, selfs al eis die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) dat hy dit doen.

KSA se nuwe akte van inlywing is verlede week ná ’n lang interne stryd oplaas bekend gestel nadat dit deur die lederaad – die hoogste gesag in krieket, bestaande uit die 14 uniepresidente – goedgekeur is. Dié dokument maak vir die eerste keer nog voorsiening vir ’n oorgrote meerderheid van onafhanklike raadslede – oftewel raadslede wat nie ook in die lederaad dien nie.

Saskok is egter nie te vinde hiervoor nie, want hy glo “sport moet deur sportmense bestuur word”.

KSA is ’n lid van Saskok.

Barry Hendricks, president van Saskok. Foto: Gallo Images

Barry Hendricks, Saskok se president, het Saterdag op ’n algemene vergadering gesê die KSA-debakel is ’n voorbeeld van regeringsinmenging aangesien Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, die tussentydse raad aangestel het om KSA se probleme uit te stryk.

Mthethwa het in Oktober 2020 ingegryp nadat Saskok nie die KSA-kwessie kon oplos nie en die saak terugverwys het na die minister.

Saskok het Maandag in ’n verklaring gesê dit blyk duidelik uit skakeling met KSA se lederaad dat dié liggaam se gesag en regte om besluite te neem oor belangrike kwessies soos die verkiesing van leiers, deur regeringsinmenging gekompromitteer is. Dit is “baie duidelik dat die lederaad tot oorgawe gedwing is”, sê Saskok, met verwysing na die lederaad se goedkeuring van die nuwe akte van inlywing.

Saskok het besluit om KSA as een van sy lede “te beskerm”.

“Ons geskil is nie met krieket nie, maar met die inmenging van die minister.”

Saskok sal ook met KSA vergader om te verseker sy akte van inlywing voldoen aan Saskok se voorskrifte en “geen uitsondering kan gemaak word nie”.

Volgens Saskok se grondwet mag KSA se raad nie ’n oorgrote meerderheid onafhanklike raadslede bevat nie.

Judith February, woordvoerder van die tussentydse raad.

Judith February, ’n lid van die tussentydse raad van KSA, sê niemand het enigiets onder dwang gedoen nie.

“Dit was duidelik van die begin af dat krieket ministeriële ingryping nodig gehad het voordat die spel kon self-korrigeer,” sê February, wat ook dien as die tussentydse raad se woordvoerder.

“Wat ons hier het, is ’n akte van inlywing wat ’n wêreldklas-dokument is, ’n behoorlike grondwet, wat voldoen aan die beste bestuurspraktyke wêreldwyd.

“Die lederaad het eenparig daartoe ingestem nadat daar verskeie vergaderings en samesprekings was oor die bewoording daarvan.

“Ons kan nie terugkeer nie. Ons plaas krieket op die regte bestuurskoers en ons kan nie omkeer nie. Saskok se kwessies is met die minister, daar is nie veel wat ons daaromtrent kan doen nie.

“Wat ons doen, is om baie hard te werk om alles wat ons moet doen, betyds af te handel voor die jaarvergadering op 12 Junie. Ons wil verseker daar is ná dit ’n onafhanklike raad, wat die spel vorentoe kan neem.”

Rihan Richards, president van KSA se lederaad. Foto: Gallo Images

Die tussentydse raad se termyn is verleng tot ná die jaarvergadering.

Rihan Richards, die president van die lederaad, sê hulle gaan nie oor Saskok se verklaring kommentaar lewer nie.

“Ons probeer om dié week met Saskok te vergader sodat ons sy standpunt en verwagtinge kan probeer verstaan,” sê hy.

Meer oor:  Ksa-Lederaad  |  Ksa  |  Krieket Suid-Afrika  |  Saskok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.