Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Saskok se KSA-besluit ‘staan vir nou'
Terwyl die raadsaaldramas by Krieket Suid-Afrika voortwoed, wil die Proteas net op krieket konsentreer. Hier beraadslaag Mark Boucher, hoofafrigter, en Enoch Nkwe, hulpafrigter, in Maart tydens ’n oefensessie. Foto: Gallo Images

Barry Hendricks is terug as Saskok se waarnemende president, maar wil eers weer sy voete vind voordat hy ’n besluit neem oor dié beheerliggaam se ingrypingsplanne by Krieket Suid-Afrika (KSA).

Saskok se raad het die naweek op ’n spesiale vergadering gestem om sy tugproses teen Hendricks te laat vaar. Aleck Skhosana het as president waargeneem nadat Hendricks in Februarie op verpligte verlof geplaas is, nadat Ntambi Ravele,’n raadslid van Tennis Suid-Afrika (TSA), hom verkla het van ’n sameswering om haar uit die Saskok-verkiesing te hou.

In ’n arbitrasieproses is bevind Hendricks het nie kwaadwillig opgetree nie, maar Saskok het sy skorsing – hangende sy eie tugproses – gehandhaaf, totdat dit die naweek laat vaar is.

In sy afwesigheid het Saskok se raad besluit om ’n onafhanklike taakspan aan te stel om KSA se baie bestuurskwessies te ondersoek nadat die krieketbeheerliggaam hom om hulp genader het.

Saskok wil egter eers onbeperkte toegang tot die veelbesproke forensiese verslag na KSA-bestuurspraktyke verkry voordat hy sy taakspan gaan aanstel.

Maar KSA eis dat Saskok óf met ’n opsomming van die verslag tevrede moet wees, óf ’n vertroulikheidsklousule moet onderteken as hy die volle verslag wil sien. Saskok was tot verlede week nie hiervoor te vinde nie en dit is onduidelik of die sambreelligaam sy standpunt gaan verander met Hendricks terug in die saal.

“Dit is nog effens te vroeg om te sê, ek is nou eers terug op kantoor. Ek moet eers al die verslae deurlees en myself oriënteer oor watter rigting ons met hierdie kwessie gaan inslaan,” het Hendricks Maandag aan Netwerk24 gesê.

Barry Hendricks is terug as Saskok se waarnemende president. Foto: Gallo Images

Hy sê by dat hy ’n leier is wat daarvan hou om “verhoudings te vestig”. Saskok en KSA kon tot dusver nie gemeenskaplikheid vind wat hul beoogde samewerking betref nie.

“Maar vir nou moet die besluit staan, want dit was ’n raadsbesluit. Ek sal dit (die raadsbesluit) egter bestudeer.”

Daar is nog nie ’n vaste datum vir ’n volgende ontmoeting tussen KSA en Saskok nie.

KSA klou verbete vas aan die forensiese verslag, glo op regsadvies van sy prokureurs, Bowmans, uit vrees vir litigasie. Nie eens KSA se lederaad – die hoogste krieketgesag in die land – mag die volledige verslag sonder ’n vertroulikheidsooreenkoms sien nie.

Bevindinge in dié verslag het tot die ontslag van Thabang Moroe, die voormalige uitvoerende hoof, gelei. Moroe is van plan om sy afdanking met regsaksie te beveg, maar Netwerk24 verneem daar is nog nie ’n hofdatum vasgestel nie.

Terwyl die drama in die raadsale vuurwarm voortwoed, brand die Proteas om weer op die speelveld te kom.

“Ons kan nie doekies omdraai oor dit wat die kriekethoofopskrifte in die land onlangs oorheers het nie. Die beste ding vir krieket in Suid-Afrika, is om terug op die veld te kom en om die hoofopskrifte vir die regte redes te haal,” het die Protea-afrigter, Mark Boucher, Maandag in ’n klankgreep gesê wat KSA uitgestuur het.

“Die enigste manier hoe ons dit kan doen, is om op die veld te kom. Hopelik kan ons dit gou doen. Ons wil hê die spel moet die praatwerk doen en nie ander goed nie.”

Daar is nog nie duidelikheid oor wanneer die Proteas weer in aksie sal wees nie.

Boucher sê die span is uitstekend belyn ná ’n kultuurkamp, wat in Augustus in die Krugerwildtuin gehou is.

Ongemaklike, dog nodige gesprekke is glo gevoer oor hoe ’n span van verskillende agtergronde as ’n hegte eenheid kan saamwerk.

Thabang Moroe, die afgedankte uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

“Dit was baie goed vir my en Enoch (Nkwe, hulpafrigter), want ons het ’n idee gehad van die rigting wat ons wou inslaan, en die spelers het daardie rigting ingeslaan sonder dat ons eens iets hoef te gedoen het. Die gesprekke het alles belyn sonder dat ons nodig gehad het om dit af te dwing,” sê hy.

Die Proteas het ’n nuwe waardestelsel daargestel, wat gevestig is op dié waardes: Om te behoort, empatie en respek. Boucher sê elke spanlid moet homself kan wees en voel jy word gekoester.

Hy sê begrip vir mekaar het ’n groot rol gespeel en hyself het ook baie geleer oor verskillende kulture en rasse. Die Proteas het besluit om hul diversiteit as ’n sterkpunt te gebruik.

Meer oor:  Krieket  |  Barry Hendricks  |  Krieket Suid-Afrika  |  Saskok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.