Die Cape Cobras se wendroogte die seisoen het Woensdag voortgeduur toe hulle hul tweede Groep B-wedstryd in die plaaslike eendagreeks teen die Warriors verloor het.
Die Warriors het in Potchefstroom met ’n bonuspunt met 81 lopies volgens die Duckworth-Lewis-stelsel gewen.
Die wenspan het 226/6 in sy 44 boulbeurte aangeteken in sy kolfbeurt wat deur reën verkort is. Die Cobras, met vier veranderinge aan die span wat verlede Vrydag teen die Lions verloor het, kon net 148 kry.

Sinethemba Qeshile Foto: Gallo Images
Die aanvangsbouler Glenton Stuurman en twee draaibalboulers, Jon-Jon Smuts en Rudi Second, het elk drie paaltjies vir die Warriors laat kantel.
Second, die kaptein, het met ’n veelsydige vertoning uitgeblink. Hy het vroeër 43 lopies aangeteken voor hy sy beste boulsyfers nóg – 3/20 – behaal het.
Vyftigtalle deur die aanvangskolwer Matthew Breetzke (55) en veral die paaltjiewagter Sinethemba Qeshile, wat onoorwonne op 64 van 73 balle was, het die Warriors ’n stewige totaal besorg.
Die eerste drie Cobra-kolwers was slagoffers elk van Stuurman (3/26), Smuts (3/28) en Second (3/20) wat voortgegaan het om elk drie paaltjies te kry.
Die Cobras het in die 17de beurt nog sterk gestaan op 62/2 toe Second toegeslaan het met die paaltjie van Tony de Zorzi wie se 30 lopies die beste met die kolf vir die Cobras was. Jonathan Bird (27) het ook moedig probeer.
Smuts het met die paaltjies van Jean du Plessis (17) en Aviwe Mgijima (12) die Kapenaars van 92/3 tot 110/6 laat steier.
TELKAART
• Die Warriors het Donderdag in hul derde wedstryd ’n herontmoeting met die Lions en nie teen die Cobras soos vroeër berig is nie.
• TV: Donderdag vanaf 10:00 (SS 210).