Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Sege wink danksy Quinny, boulers

Toe Quinton de Kock sy kapteinarmband in die kas gebêre het, het iets anders sy oog getref. Sy stowwerige superheld-mantel.

Quinton de Kock het die Proteas Saterdag weer met ’n skitterende kolfvertoning tot ’n goeie telling aangevoer. Foto: Gallo Images

Hy’t dit lanklaas gedra, maar dit was klaarblyklik die eerste item in sy bagasie toe hy gepak het vir die Proteas se toer na die Wes-Indiese Eilande.

Sedertdien hang dit nog die heeltyd oor sy skouers.

Die Protea-paaltjiewagter het Saterdag so byna sy skitterende honderdtal in die eerste toets met nóg een in die tweede opgevolg. Dié keer het hy ongelukkig net-net tekort geskiet, maar sy beurt van 96 (162 balle) het Suid-Afrika gehelp om ’n eerstebeurttelling van 298 in St. Lucia op te stapel. Dít nadat hulle Vrydag in die eerste sessie op 37/3 gesteier het nadat die Windies hulle ingestuur het om te kolf.

Die spoggerige Protea-boulaanval het daarna ook hul deel gedoen en onder die Windie-kolwers gemaai met gedissiplineerde, aggressiewe boulwerk.

Kagiso Rabada (2/24) het sommer ’n paaltjie met die heel eerste bal van die Windies se beurt gevat.

Lungi Ngidi (2/27), Anrich Nortjé (1/41) en Keshav Maharaj (2/47) het almal ook paaltjies platgetrek, voordat Wiaan Mulder (3/1) laat in die dag met ’n skitterskof vorendag gekom het om die Windies finaal te knak.

Die kolftoestande was nie meer so uitdagend soos op die eerste dag nie, maar daar was tog hulp aan die boulers. Soos wat die Protea-boulers tans boul, lyk dit boonop of hulle net ’n tikkie hulp van die blad nodig het om ’n reuse-impak te maak.

Hulle, en De Kock, is grootliks die rede dat Suid-Afrika naby aan ’n skoonskip-reekssege is.

2de toets, St. Lucia, dag 2

Suid-Afrika (1ste beurt) 298

Wes-Indiese Eilande (1ste beurt) 149

Wanneer De Kock só speel, het die Proteas ’n X-faktor. Dit is iets wat hulle erg gemis het toe die paaltjiewagter vroeër vanjaar met die kapteinskap opgesaal is.

Nou is Dean Elgar die kaptein en dit is ’n rol wat hom goed pas. Hy is ook bly om sy sterkolwer terug te hê.

“Quinny speel op die oomblik ’n ander spel as almal anders. Hy het nog altyd die vermoë gehad om ’n wedstryd te wen,” het Elgar Vrydag gesê.

“Dit is lekker om hom weer met ’n glimlag op sy gesig te sien speel. Hy het ’n paar taai maande agter die blad.

“Dit is goed dat ons nou weer die joviale Quinny terug het, die speler aan wie ek gewoond geraak het toe ek saam met hom begin speel het. Ons het nog nie die beste van Quinton de Kock gesien nie.”

Elgar self het net so ’n belangrike rol in die eerste beurt gespeel, met ’n hardnekkige 77 van 237 balle. Hy en die groentjie Kyle Verreynne (27, 89 balle) het die Proteas met ’n vennootskap van 87 uit die moeilikheid gekolf.

“Ek is baie bly vir Kyle. Hy is ’n bondel vreugde in die kleedkamer. Almal geniet sy energie, sy gees en sy sin vir humor.

“Hy is ’n baie goeie kolwer. Nog jonk, maar ek was baie bly om hom in moeilike toestande te sien speel, en hoe hy homself ingrawe en nie net uitkom en sy houe speel nie.”

Die Proteas se voorsprong is 149 lopies en hulle behoort nou hul eerste oorsese reekssege sedert begin 2017 te behaal. En dit sal die span se selfvertroue ’n reusehupstoot gee.

Telkaart.

Meer oor:  Johannesburg  |  Windies  |  Proteas  |  Toetsreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.