Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Sekerheid op die veld, maar nie in raadsale
Die Aussies kom terug . . . Kagiso Rabada vier die paaltjie van Mitch Marsh in die tweede toets van die reeks tussen Suid-Afrika en Australië in 2018. Foto: Gallo Images

Dis amptelik: Die Aussies kom volgende jaar hierheen vir hul eerste toetsreeks in Suid-Afrika sedert die skuurpapier-skandaal van 2018.

Die Covid-19-pandemie het die internasionale krieketkalender in onsekerheid gedompel, maar Krieket Suid-Afrika (KSA) het Dinsdag bevestig dat Australië se beplande reeks voortgaan.

Steve Smith huil sy oë uit by sy eerste mediakonferensie nadat die balpeuterskandaal in Suid-Afrika aan die lig gekom het. Foto: Getty Images

Die balpeuterbende van David Warner en Steve Smith sal in Februarie 2021 saam met hul Aussie-spanmaats hier aanland vir ’n reeks van drie toetse.

Die Aussies was vroeër vanjaar vir die eerste keer sedert die balpeutery-skandaal terug in Suid-Afrika vir drie eendag- en drie T20-wedstryde, maar het sedert 2018 se toetsreeks, wat Suid-Afrika met 3-1 gewen het, nog nie weer toetskrieket in Suid-Afrika gespeel nie.

Terwyl die onsekerheid rondom die toekoms van KSA se topbestuur voortwoed, het die beheerliggaam ook bevestig dat die Proteas vanjaar vir Sri Lanka in die Welwillendheidsdag-toets van 26 Desember af in Centurion sal pak. Die tweede en laaste toets begin op 3 Januarie op die Wanderers.

Ná die Aussies se besoek sal Pakistan in April vir drie eendag- en drie T20-wedstryde na Suid-Afrika toer.

KSA gaan ook ’n afvaardiging na Pakistan stuur om vas te stel of dit veilig en lewensvatbaar sal wees dat die Proteas vroeg in 2021 vir die eerste keer sedert 2007 daarheen toer.

KSA het verlede week ook bevestig dat Engeland van 27 November tot 9 Desember hierheen toer vir drie eendag- en drie T20-wedstryde.

Intussen het KSA se lederaad Dinsdag met Nathi Mthethwa, die minister van sport, vergader om die pad vorentoe te bespreek.

Mthethwa het KSA twee weke gelede tot Dinsdagmiddag 17:00 tyd gegee om aan hom redes te verskaf waarom hy nie by die beheerliggaam se sake moet inmeng nie.

Dit het gelei tot ’n besluit van die lederaad – die hoogste krieketgesag in die land, bestaande uit die 14 uniepresidente – dat die ganse KSA-raad moet bedank, wat tussen Sondag en Maandag gebeur het.

Mthethwa het Maandag aan joernaliste in die Oos-Kaap gesê die ultimatum wat hy aan KSA gestel het, was presies dít: Dat die raad moet bedank.

Hulle het dit nou gedoen en dit sal nou alles vorentoe neem. Ons is waar ons is weens ’n gebrek aan leierskap. As hulle dit besef het, is dit vordering.
Nathi Mthethwa

“Hulle het dit nou gedoen en dit sal nou alles vorentoe neem. Ons is waar ons is weens ’n gebrek aan leierskap. As hulle dit besef het, is dit vordering,” sê Mthethwa.

Uit hierdie verklaring blyk dit Mthethwa is nou tevrede en sal nie, soos hy gedreig het, by KSA se sake inmeng kragtens die Nasionale Wet op Sport en Ontspanning nie.

Daar is wel nog onsekerheid oor hoe die raadstruktuur tot met die jaarvergadering van 5 Desember gaan lyk.

Anne Vilas

Netwerk24 verneem KSA wil sy voorstel deurvoer dat ’n tussentydse raad op die been gebring word. Dit kan ’n verteenwoordiger insluit wat die minister aanbeveel. ’n Oudspeler kan ook hierop dien, terwyl lederaadslede ook deel van dié tydelike raadstruktuur kan vorm.

KwaZulu-Natal se Ben Dladla of Anne Vilas van die Central Gauteng Lions kan kandidate wees om dié tydelike raad te lei. Noord-Kaap se Rihan Richards is Sondag verkies as die lederaad se president, ’n nuwe pos wat geskep is.

Dit is nog onduidelik of Mthethwa tot dié plan sal instem, en of hy daarop gaan aandring dat Saskok eerder sy onafhanklike taakspan aanstel om KSA te ondersoek.

Bepalings vir die Engelse reeks

Vrydag, 27 November, 18:00: 1ste T20-wedstryd, Nuweland.

Sondag, 29 November, 14:30: 2de T20-wedstryd, Paarl.

Dinsdag, 1 Desember, 18:00: 3de T20-wedstryd, Nuweland.

Vrydag, 4 Desember, 13:00: 1ste eendagwedstryd, Nuweland.

Sondag, 6 Desember, 10:00: 2de eendagwedstryd, Paarl.

Woensdag, 9 Desember, 13:00: 3de eendagwedstryd, Nuweland.


Bepalings vir Sri Lanka se reeks:

26 tot 30 Desember: 1ste toets, Centurion

3 tot 7 Januarie: 2de toets, Wanderers


Meer oor:  David Warner  |  Nathi Mthethwa  |  Steve Smith  |  Johannesburg  |  Toer  |  Proteas  |  Aussies  |  Ksa  |  Reeks  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.