Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Senior spelers se koppe én lywe was sat

Al die senior Proteas behalwe twee het die span in die steek gelaat by die Wêreldbeker (WB)-toernooi, lui ’n verslag wat die nasionale span se breintrust aan Krieket Suid-Afrika (KSA) voorgelê het ná die span hul gesukkel in Engeland.

“Buiten Imran Tahir en Faf du Plessis aanvaar die senior spelers nie genoeg verantwoordelikheid nie,” staan in die verslag, wat Rapport gesien het.

Die Proteas sing die Suid-Afrikaanse volkslied voor hul nederlaag teen Bangladesj. Foto: Getty Images

“Die senior spelers moet in belangrike wedstryde na vore tree, soos wat die geval met die meer suksesvolle spanne by die WB is.”

Die verslag lys verskillende redes waarom die span slegs drie uit nege wedstryde kon wen. Verskeie raadsaal-kwessies (lees die berig hiernaas) word genoem, maar probleme op die speelveld word ook bespreek.

Dr. Mohammed Moosajee, spanbestuurder, Ottis Gibson, afrigter, en Faf du Plessis, kaptein, het die verslag opgestel.

Hoewel hulle erken dat senior spelers nie na vore getree het nie, glo dié drie nie die span het ge-“choke” onder druk nie.

“Ons was eenvoudig nie gereed en so goed voorbereid soos wat ons kon wees nie. Sekere senior spelers het meer gespanne voorgekom as wat ons voorheen ervaar het, maar dit kan toegeskryf word aan ’n insinking in spelpeil en selfvertroue en/of geestelike uitbranding weens te min hersteltyd.” Die bestuur stel voor ’n geestesbreier word nouer by die span betrek.

Die span was ook té afhanklik van Du Plessis.

“Ons maak baie staat op ons kaptein as ’n leier en kolfanker. Die feit dat hy nie voor die toernooi gerus het nie, kon bydra tot sy swak kolfpeil in die eerste paar wedstryde.

“Buiten Faf, blyk daar onvoldoende leierskap te wees, ondanks pogings deur die bestuur om dit te fasiliteer.”

Beserings aan boulers soos Dale Steyn, Lungi Ngidi, Kagiso Rabada en Anrich Nortjé word ook voorgehou as redes vir die kleitrappery. “Die bouleenheid wat ons WB toe geneem het, was nie die een wat die hoofafrigter en keurders byeengebring het en wat vir ons vyf van ons vorige ses reekse gewen het nie.”

In die verslag word lig gewerp op die spankultuur wat die Proteas onder Gibson probeer omarm het en die sielkundige voorbereiding wat voor die WB gedoen is.

“Vertonings van vorige WB’s is hersien en lesse is daaruit gehaal (soos om die ‘chokers’-etiket met feite te ontsyfer).

“Ons het gepraat oor ons doel en dryfveer (ubuntu) en wat dit vir ’n verdeelde land sou beteken om die WB te wen. Ons het vertroue probeer verdiep deur die deel van diep persoonlike oortuigings tussen leiers.

“Ons het ook gesonde gesprekke oor AB (de Villiers) se uittrede gehad en hoe dit ons identiteit beïnvloed het.

“Ons het ons weer verbind tot ons visie, die beginsels van ubuntu (wat insluit om die haweloses te voed).”

Daar word ’n paar positiewe aspekte gelys wat uit die toernooi gekom het, onder meer Rassie van der Dussen se goeie vordering en ’n fikse Chris Morris se hertoetrede tot die internasionale verhoog.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.