Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Pakistan se Shah laat 82 j. oue rekord spat

Met die uitsondering van een van die oudste rekords wat Yasir Shah uit die rekordboeke gevee het, was daar op die vierde dag van die derde en beslissende toets teen Nieu-Seeland in Abu Dhabi nie veel vir Pakistan om oor te kraai nie.

Yasir Shah en sy Pakistanse spanmaats vier sy mylpaal in die toets teen Nieu-Seeland. Foto: AP

Dit was trouens ’n frustrerende dag vir die tuisspan in die Verenigde Arabiese Emirate, met Nieu-Seeland wat die dag op 272/4 afgesluit het, ’n voorsprong van 198 lopies met nog ses paaltjies staande.

’n Onoorwonne vennootskap van 212 lopies tussen die kaptein, Kane Williamson (139*, 282 balle, 13x4) en Henry Nicholls (90*, 243 b, 8x4), het die Kiwi’s uit ’n benarde situasie gered nadat die vierde paaltjie reeds Donderdag vroeg geval het met die totaal op 60.

Williamson en Nicholls het die Pakistani-boulers egter die res van die dag gefrustreer, veral nadat Nicholls uitgegee is as been voor paaltjie betrap deur Shah nog voordat hy dubbelsyfers gehad het, maar die verwysing hom gered het. Dít het gewys dat die bal die bypen sou gemis het. Wat die res van die dag betref, het niks in Pakistan se guns gebeur nie, en sal hy moontlik op die laaste dag moet walgooi om nie die toets te verloor nie.

Shah het op die vierde oggend ’n 82 jaar oue rekord verbeter toe hy van William Somerville ontslae geraak het.

Hy het daarmee sy 200ste toetspaaltjie in net sy 33ste toets geneem en dit verbeter die rekord vir die bouler wat die vinnigste 200 toetspaaltjies geneem het. Dít het behoort aan nog ’n bybreker, die Aussie Clarrie Grimmett, wat dit in sy 36ste toets geneem het.

Shah se spanmaats het op hom toegesak om dié mylpaal te vier, maar ongelukkig was daar net ’n handjievol toeskouers om dit gade te slaan.

Hy het reeds 27 paaltjies in die reeks geneem en hy kan ook die rekord verbeter vir die meeste paaltjies in ’n reeks van drie toetse. Dit word deur nog ’n Pakistanse bybreker, Abdul Qadir, gehou. Hy het in die 1987-’88-seisoen 30 paaltjies teen Engeland laat spat.

Nadat ’n heupbesering Shah vroeër vanjaar weerhou het daarvan om op die toer na Ierland en Engeland te speel, lyk hy nou weer na die speler van ouds. – Sportredaksie

Meer oor:  Yasir Shah  |  Pakistan  |  Toetskrieket  |  Rekord  |  Nieu-Seeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.