Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Shamsi nou tweeledige Protea-wapen

Al is Tabraiz Shamsi die wêreld se voorste T20-bouler en wen hy die een wedstryd ná die ander vir die Proteas, voel hy nie sy huidige spelpeil is noodwendig uitsonderlik nie.

Tabraiz Shamsi het Maandag nog ’n skitterende vertoning vir die Proteas gelewer. Foto: Getty Images

“Ek sou nie sê dit is die beste spelpeil van my lewe nie. Dit is maar net die eerste keer wat ek bestendige speelkans kry en ons die kans kry om (sulke vertonings) te sien,” het Shamsi Maandag gesê nadat hy die Proteas met ’n boulvertoning van 4/27 gehelp het om die eerste T20-wedstryd teen Ierland met 33 lopies te wen.

“Gewoonlik het ek net een wedstryd hier gekry en dan nog een drie maande later. Dit is maar net hoe my loopbaan begin het, om vanselfsprekende redes (omdat Imran Tahir die voorkeur-draaier was).

“Daar gaan moontlik weer tye kom waar dinge nie my kant toe gaan nie, maar dan moet ek probeer om op ander maniere by te dra.”

Sedert die begin van die jaar het Shamsi 21 paaltjies in 13 T20-wedstryde platgetrek. Hy het slegs 279 lopies afgestaan, wat op ’n gemiddeld van 13.28 lopies per paaltjie neerkom.

Hy het boonop net in een van daardie wedstryde meer as 30 lopies afgestaan – in die derde tuiswedstryd teen Pakistan. Daar dag het hy met syfers van 0/39 geëindig – ook sy enigste wedstryd vanjaar sonder ’n paaltjie.

Dit is topklas-statistieke.

“Al wat binne my beheer is, is waar ek die bal probeer plant. Soms kan ek ’n bal boul wat ek dink vir my ’n paaltjie kan kry, maar dit hang ook van die kolwer af. Die kolwer kan probeer om verdedigend teen jou te kolf en liewer ander boulers te teiken,” sê hy.

“Bestendige vertonings kom ook met ervaring. Ek het besef daar is twee maniere hoe ek die span kan probeer help om wedstryde te wen – om paaltjies te neem of om die lopietempo in toom te hou. Toe ek jonger was, het ek gevoel ek is onsuksesvol as ek nie paaltjies vat nie, maar nou weet ek dit is nie so nie.”

Shamsi is beslis die bouler wat tans die beste spelpeil handhaaf, maar hy sê selfs vir hom raak ’n lang toer soos hierdie een in bioborrels in die Wes-Indiese Eilande en Ierland uitdagend.

“Daar is steeds die menslike element. Dinge gebeur by die huis, baie van ons het ons kinders en vroue en ouers vir twee maande nie gesien nie.

“Selfs al speel ek goed, is ek steeds ’n mens. Almal is. Daar is uitdagings. Ons taak is om goed te vertoon en geluk te skep vir die mense by die huis.”

Die tweede T20-wedstryd word Donderdag beslis.

Meer oor:  T20  |  Proteas  |  Tabraiz Shamsi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.