Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Sharma kies Ponting as beste breier

Teen die tyd dat ’n krieketspeler die hoogste vlak van sy loopbaan bereik, het hy al verskeie afrigters gehad wat hom gehelp brei en touwys gemaak het.

Om een uit te sonder wat die grootste invloed gehad het, kan sekerlik nie maklik wees nie, maar die Indiese aanvangskolwer Rohit Sharma het dié lys verfyn tot sy voorste keuse.

Rohit Sharma in aksie vir die Mumbai Indians in die Indiese Premierliga. Foto: Getty Images

In ’n gesprek met Kevin Pietersen op Instagram het Sharma die voormalige Australiese kolwer en krieketlegende Ricky Ponting uitgesonder as die beste breier onder wie hy al gespeel het.

Ponting was in 2013 die kaptein van die Indiese Premierliga- (IPL) span die Mumbai Indians, maar het in die middel van die seisoen padgegee, waarna Sharma die mantel oorgeneem het.

“Dit is nie maklik om een naam te kies nie, want hulle het almal iets na die tafel gebring,” het Sharma aan Pietersen gesê.

“Ricky Ponting was egter magies. Die manier hoe hy die span behandel het toe hy die kaptein was vir die eerste helfte (van die 2013-seisoen), en dit toe aan my oorhandig het, was iets wat durf verg om te doen.”

Ponting het die leisels as breier by die Mumbai Indians in 2014 oorgeneem en in dié rol gebly tot in 2016.

Die span het in 2013, met Sharma as kaptein vir die tweede helfte van die reeks, en in 2015, met Ponting as afrigter, die Indiese Premierliga gewen.

“Deur ná dit (sy uittrede as speler) steeds só betrokke te bly as ’n lid van die afrigtingspan, het hy die jonges begelei en my ook rigting gegee met die kapteinskap,” het Sharma gesê.

“Ek kon baie by hom leer. Hy was iets heeltemal anders.” Sharma het die Mumbai Indians al vier keer tot die titel gelei – in 2013, 2015, 2017 en 2019.

In sy 188 wedstryde in die IPL het Sharma al 4 898 lopies opgestapel teen ’n gemiddelde van 31.60.

In 2011 het hy nie die nasionale span vir die Wêreldbeker-kriekettoernooi wat in Indië gehaal nie.

Dié span is deur die Suid-Afrikaner Gary Kirsten afgerig, wat hulle tot glorie in die Indiese span se agterplaas geneem het.

Sharma sê sy weglating uit daardie span is steeds die hartseerste oomblik van sy loopbaan.

“My vertoning het my in daardie stadium in die steek gelaat. Ek was nie op my beste nie,” erken hy. – Sportredaksie, espncricinfo.com

Meer oor:  Rohit Sharma  |  Gary Kirsten  |  Ricky Ponting  |  Indiese Premierliga  |  Indië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.