Ravi Shastri, Indië se afrigter, het sy span se reeksoorwinning in Australië as een van die beste reeksseges van alle tye beskryf.
Terselfdertyd word daar al hoe meer vrae oor Tim Paine, die Australiese kaptein, se kapteinskap gevra.

Rishabh Pant se onoorwone 89 van 138 balle het Indië oor die wenstreep gekry in die vierde toets teen Australië. Foto: Getty Images
Indië het die vierde toets in Brisbane Dinsdag met drie paaltjies gewen om die reeks met 2-1 te beklink.
Dit was die eerste toets wat Australië op die Gabba verloor het sedert 1988. Destyds was dit teen die magtige span van die Wes-Indiese Eilande.
Indië is vir ’n rekordtelling van net 36 in die eerste toets in Adelaide uitgeboul en het toe boonop sy kaptein en beste kolwer, Virat Kohli, vir die res van die reeks verloor omdat hy op vaderskapsverlof was.
Indië het onder leiding van Ajinkya Rahane toe die tweede toets in Melbourne gewen voordat hy die laaste dag uitgekolf het om die derde toets in Sydney te red. Dít het die reeks op 1-elk gelyk gehad voor die laaste toets op die Gabba in Brisbane.
Sake het egter nog moeiliker vir die besoekers geraak voor die laaste toets in die Aussies se vesting. Hulle het verskeie lede van hul boulaanval aan beserings afgestaan. Die netboulers Washington Sundar en T. Natarajan het toe hul buiging in Brisbane gemaak.
Australië is Maandag vir 294 in sy tweede beurt uitgeboul en is die teiken van 328 gestel om die toets en die reeks te wen.
Ek is nie regtig iemand wat huil nie, maar ek het regte trane in my oë ná dié vertoning.
Rishabh Pant se onoorwonne 89 het Indië oor die wenstreep gekry ná goeie beurte van Shubman Gill (91) en Cheteshwar Pujara (56).
“Ek is nie regtig iemand wat huil nie, maar ek het regte trane in my oë ná dié vertoning. Dit is ongelooflik,” het Shastri ná die tyd gesê.
“Dit het nog nie ingesink nie en dit gaan nog lank vat om in te sink.”
Indië se uitstekende vertoning was sout op die wonde van Paine, wat in Sydney vir een van die Indiese spelers gesê het: “Kan nie wag om julle op die Gabba te kry nie.”
Paine het natuurlik na die veld verwys waar Australië 33 jaar laas ’n toets verloor het.
Paine se kapteinskap sal weer onder die loep geneem word. Hy het destyds die span se leierskap by Steve Smith oorgeneem weens die skuurpapierskandaal in Suid-Afrika in 2018.
Die Indiese reekssege sal die Proteas ’n bietjie hoop gee voor die reeks van drie tuistoetse teen die Aussies in Februarie en Maart.
Suid-Afrika sal bekommerd wees oor die Aussie-blitsaanval van Pat Cummins, Josh Hazlewood en Mitchell Starc. Daar is egter ernstige vrae oor die Aussie-kolflys. Buiten Smith, David Warner en Marnus Labuschagne het die res van die kolwers gesukkel om hul stempel teen Indië af te druk. – Sportredaksie, Reuters