Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Spelers of krieketspelende sangers?

Stel jou voor: Mick Jagger voor die paaltjies, Eric Clapton wat na hom boul en Phil Collins wat paaltjiewagter speel.

Dis amper so onwerklik soos om daaraan gewoond te raak om AB de Villiers te hoor sing, of hoe?

Met ’n vinger soos daardie moet Mick Jagger dalk eerder vergeet van krieket speel en dit dalk oorweeg om ’n krieket-skeidsregter te word. Foto: Getty Images

Maar dan moet ons nou ook toegee dat AB nogal baie beter kan sing as wat Mick, Eric en Phil kan krieket speel!

Dis ’n feit dat baie musieksterre graag krieket speel of kyk, veral die Engelse.

Jagger is nou al ’n bietjie oud en hy kyk deesdae eerder krieket by Lord’s as om self te speel, maar deur die jare het die Rolling Stones se sanger graag die kolf probeer swaai.

Nie altyd ewe suksesvol nie. Soos in 1996 toe die Engelse dorpspan van Over Stowey teen die Franse dorpie Pocé-sur-Cisse gespeel het.

Mick woon in die omgewing van Pocé-sur-Cisse en het vir dié span gespeel.

Die rock-ster Eric Clapton in 2009 afgeneem waar hy in ’n krieketwedstryd in Surrey in Engeland gespeel het. Foto: Getty Images

“Toe hy (Jagger) daar uitstap om te kolf, het hy sy bors pronkerig uitgestoot, nes hy doen wanneer hy op die verhoog is,” vertel Steve Darch, wat vir Over Stowey gespeel het.

Maar toe word Jagger vir ’n nulletjie uitgeboul en hy gee behoorlik uiting aan sy frustrasie.

“Daar is nogal in eksplisiete rock ’n’ roll-taal gepraat toe hy uitgeboul is,” onthou Darch.

Jagger het darem so nou en dan meer sukses met die kolf gehad wanneer hy vir die liriekskrywer Tim Rice van Evita-faam se span, The Heartaches, gespeel het.

Hy het selfs op ’n keer sy Rolling Stones-maat Keith Richards oortuig om vir The Heartaches te speel. En vir David Bowie.

Blykbaar was dié twee minder vaardig met die bal en die kolf as Jagger, wat nie veel sê nie.

’n Hele rits bekende sangers het ook oor die jare heen vir die Burnburys, ’n span wat deur die musiekbaas David English gestig is, in wedstryde ten bate van liefdadigheid gespeel.

Onder hulle tel Collins, Bill Wyman, David Essex, Paul Young en Ringo Starr.

Henry Olonga van Zimbabwe in sy speeldae in aksie. Olonga is ook ’n bedrewe operasanger. Foto: Getty Images

Collins was glo ’n knap paaltjiewagter, maar die beste van hulle almal was glo Wyman. Die Stones se baskitaarspeler se konsentrasie voor die paaltjies was glo iets uitsonderlik.

Nie eens ’n skraps geklede jong vrou wat langs die veld op- en afgespring het, kon hom van stryk bring nie.

Wyman het op ’n keer ’n onoorwonne 41 lopies in ’n wedstryd in Surrey aangeteken, met Clapton wat gesukkel het om 13 bymekaar te skraap.

“Ek is lief daarvoor om krieket te kyk, maar ek haat dit om dit te speel. Elke nou en dan doem daar ’n geleentheid op (om te speel) en dan sien ek daarna uit en dan begin die wedstryd en tree die werklikheid in. Ek hou daarvan om goed te wees in alles wat ek doen, maar al wat krieket my geleer het, is nederigheid,” gee Clapton – seker een van die beste kitaarspelers nóg – toe.

En dan kry jy die regte krieketspelers wat skynbaar sonder veel moeite, of selfbewustheid, agter ’n mikrofoon inskuif en soos kanaries begin sing.

Soos AB. In 2010 het hy en sy maat Ampie du Preez die CD Maak jou drome waar uitgebring.

Die lirieke was maar hier en daar so-so, maar dit was nie ’n slegte poging nie. Meer onlangs het AB saam met Karen Zoid en die Ndlovu-jeugkoor die indrukwekkende lied “The Flame” opgeneem.

Die Engelse kolwer Mark Butcher het in 2003 ’n huldigingsalbum vir sy spanmaat Ben Hollioake, wat die vorige jaar in ’n motorongeluk in Australië dood is, opgeneem.

AB de Villiers neem in Januarie ’n selfie gedurende ’n Big Bash-wedstryd in Brisbane. De Villiers is nie skaam om te sing nie. Foto: Getty Images

You’re Never Alone is nie te vrot nie, hoewel Butcher toegee dat hy “beslis nie die volgende Robbie Williams” is nie.

En daar was die twee Windies, Curtly Ambrose en Richie Richardson, wat vir ’n hele klompie jare mense met hul reggae-groep Crazy Dread & The Baldhead vermaak het.

Henry Olonga, ’n voormalige snelbouler van Zimbabwe, is dalk die suksesvolste speler wat ’n oorgang na sanger gemaak het.

“Ek is deur God geseën om nie net ’n sportman te wees nie, maar ook ’n sanger,” het Olonga, wat selfs opera kan sing dat jou tone krul, al gesê.

Bron: Through the Covers deur Marc Dawson.

Meer oor:  Sing  |  Krieket  |  Mick Jagger  |  Ab De Villiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.