Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Siya, Madiba krieketvroue se WB-inspirasie

Suid-Afrika se vrouekrieketspan het sy voorbereiding vir vanjaar se T20-Wêreldtoernooi Dinsdag op ’n suur noot afgesluit, met ’n naelbyt-nederlaag teen Australië in Adelaide.

Die Protea-kaptein Dané van Niekerk het hard probeer om haar span op die voorvoet te kry met ’n goeie beurt van 62 (51 balle; 7x4, 3x6), wat haar span tot 147/6 gehelp het.

Dané van Niekerk, die Proteas se kaptein. Foto: Getty Images

Dit was egter nie genoeg om die gevreesde Aussie-kolflys in toom te hou nie. Die tuisspan het die wenlopies aangeteken met drie balle oor om met vier paaltjies te seëvier.

TELKAART

Die Proteas begin hul aanslag op die Wêreldtoernooi Sondag in Perth teen Engeland.

Van Niekerk het Dinsdag gesê sy het daarvoor gaan inspirasie soek by Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, en oudpres. Nelson Mandela.

Dit sal ’n droom wees om te vermag wat Siya-hulle het.
Dané van Niekerk

Die Protea-kaptein sê sy was vasgenael voor die televisie toe Kolisi die Bokke in November tot ’n derde WB-triomf aangevoer het.

“Nelson Mandela het gesê dat sport ’n nasie kan verenig. Dit is wat ons as sportmense probeer doen: om mense saam te snoer,” sê Van Niekerk.

“Dit sal ’n droom wees om te vermag wat Siya-hulle het.”

Anders as die Springbokke, wat by hul WB-toernooi alle oë op hulle gehad het ná hul Rugbykampioenskap-sukses, sal Van Niekerk-hulle onder die radar jag maak op die wêreldkroon.

Sy sê sy verstaan waarom hulle nie onder die gunstelinge tel nie.

Ons het goeie spelers wat onder die toptien getel word op die onderskeie ranglyste. Dit is hoogtyd dat ons opstaan en ons talent gestand doen.

“Ons uitslae is waarskynlik nie goed genoeg nie as mens die talent in ons groep in ag neem. Dit is dus verstaanbaar dat ons as buiteperde gesien word,” sê Van Niekerk.

“Dié etiket pla my nie. Ons het goeie spelers wat onder die toptien getel word op die onderskeie ranglyste. Dit is hoogtyd dat ons opstaan en ons talent gestand doen.”

Die Proteas gaan swaar leun op ervare sterre soos Van Niekerk, Lizelle Lee, Marizanne Kapp, Shabnim Ismael en Mignon du Preez.

Vir die kaptein gaan geen verskoning goed genoeg wees nie. Die senior spelers is almal gereelde gesigte in die Big Bash-liga Doer Onder en dus gewoond aan die toestande.

“Ek sou nooit gedink het dat ek die kans sou gekry het om saam met die beste spelers in die wêreld te speel nie. Spelers soos Ismael, Du Preez en Lee het almal op die ranglyste geklim danksy die blootstelling wat hulle in die Big Bash gekry het,” sê Van Niekerk.

Engeland, die Proteas se eerste WB-teenstander, se laaste opwarmwedstryd het ook nie die gewenste uitslag opgelewer nie.

Hulle het met 10 paaltjies vasgeval teen Sri Lanka.

Engeland het 122/9 in sy 20 beurte aangeteken voor Sri Lanka 123 sonder verlies in net 12.3 boulbeurte gemoker het.

TELKAART

– Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.