Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Basta met getalle, dis talent

Transformasie in krieket gaan lankal nie meer oor getalle nie, maar oor die gehalte van die geleenthede wat vir opkomende spelers geskep word.

Só sê Linda Zondi, wat as deel van Krieket Suid-Afrika se Operasie Regruk terug is in sy pos as keurderbaas nadat hy die trekpas gegee is ná die Proteas se mislukking by vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Engeland. Hy sal nou in sy derde termyn as sameroeper van die SA keurders dien.

Linda Zondi

Hy sê die wanopvatting oor getalle moet wegval en dat transformasie nie meer ’n vloekwoord moet wees nie.

Zondi glo wel daar moet meer geleenthede op franchise-vlak geskep word om die groep spelers te vergroot waaruit die keurders kan kies.

“Transformasie is om te verseker dat geleenthede van gehalte vir spelers geskep word. Ons sal nooit ’n speler wat nie goed genoeg is nie, in die diep kant ingooi net om die boksie af te merk nie.

“Jy sal die speler se loopbaan vernietig. Jy sal ook die publiek se vertroue vernietig en die verkeerde boodskap aan jong spelers uitstuur,” sê Zondi.

“As jy in ’n elite-sportsoort speel, gaan dit nie meer oor kleur of getalle nie.

“Dit gaan oor talent, jou vermoë om druk te hanteer en hoe jy jou geestelik voorberei om te verseker dat jy jou talent onder druk kan ten toon stel.

Skep goeie geleent-hede sodat spelers kan presteer.

“Dit het niks met kleur te doen nie, dit gaan oor die gehalte van die geleenthede wat jy tot dusver gekry het.

“As iemand vir my sê Kagiso Rabada word gekies vanweë sy kleur, dan is my antwoord: Jy leef in die verlede.

“Hy het die talent gehad en is die nodige geleenthede gegee. Hy het nie net sy plek geregverdig nie, maar het ook die beste speler in die span geword en later ook die beste bouler in die wêreld.

“Dit het begin met transformasie wat hom die geleentheid gegee het. Dit is belangrik om uitnemendheid te beloon en om geleenthede aan spelers te gee wat dit verdien. As ’n speler daai geleentheid verdien, dan moet hy dit kry.”

Zondi plaas die klem daarop dat geleenthede op franchise- en ander vlakke geskep moet word.

“Ons doel moet wees om genoeg spelers aan die franchises te verskaf dat dit nooit ’n spel van getalle word nie. Transformasie was nog altyd daar om geleenthede te gee. Ons het aanbeweeg van daardie fase af, maar ons moet tog met dit volhou.

“Dit moet ’n kollektiewe doelwit wees – genoeg spelers moet geleenthede op franchisevlak gegee word en daardie spelers moet daar wys hulle kan oorheers.

“Jy presteer nie omdat jy wit of swart is nie, jy presteer omdat jy die talent het en onder druk kan presteer. Solank ek betrokke is, sal ek daarna strewe. Ons moet aanbeweeg.

“Ons moet verseker dat ons alles in ons vermoë doen om enige speler by te staan, maak nie saak wat sy kleur is nie. As hy boonop swart is, dan wen almal.

“Rilee Rossouw het byvoorbeeld ’n paar jaar gelede vier agtereenvolgende nulle op toetsvlak behaal en ons het by hom gestaan.

“Ons het dit gedoen nie omdat hy wit is nie, maar omdat ons in sy talent geglo het. Hy het voortgegaan en een van die beste spelers in die reeks geword.

“As ’n speler dit nie maak nie, is dit nie omdat hy wit of swart is nie, maar omdat hy nie presteer nie. Daar is baie spelers – wit en swart – wat dit nie op internasionale vlak maak nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.