Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Skolekrieket maak ons laaities sag’

Bring meerdagkrieket vir juniors terug en kies die regte spelers, pleit Dave Nosworthy. Plaas om hemelsnaam provinsiale krieket bo skolekrieket, vra Ashwell Prince.

Suid-Afrika se gesukkel in die Wêreldbeker (WB)-toernooi vir o.19-spanne het die kollig weer skerp op junior krieket in die land laat val. Daar blyk g’n kitsoplossing te wees nie, maar verskeie kenners glo hulle weet ten minste waar om te begin.

Graeme Smith, Krieket Suid-Afrika (KSA) se direkteur van krieket, het in Januarie daarna verwys toe hy gesê het meerdagkrieket op junior vlak moet dalk teruggebring word om lewe in die land se jong spelers te blaas. Nosworthy, ’n voormalige afrigter van die Titans en SA o.19-span, deel dié siening.

“Uit ’n sielkundige oogpunt, is die langer formaat uiters belangrik. Om oor drie dae te speel, is ’n sielkundige uitdaging,” sê Nosworthy.

Khanya Cotani word skoongeboul deur Afganistan se draaier Shafiqullah Ghafari in die openingswedstryd in Kimberley. Foto: Gallo Images

“Dit leer kolwers hoe om tyd voor die paaltjies deur te bring en vir boulers hoe om ’n tweede skof te boul. Dis ook belangrik om ’n kaptein te ontwikkel. Dit moet daar wees vir o.19’s.

“Dit was daar in die verlede, maar dis geskrap, glo om geld te bespaar. Ek het destyds met raadslede gespot en gesê ‘ten minste het julle nog pepermente in die presidentslosie’. Maar hulle het ’n besluit geneem wat die pyplyn tien jaar later negatief beïnvloed.

“Ons het krieketspelers wat deur die pyplyn kom wat gebore en geskool is in T20-krieket. Gaan kyk maar in die wêreld, jou toetsspelers word beter eendag- en T20-spelers. Nie andersom nie. Jy sien nie dat T20- en eendagspelers skielik goeie toetsspelers word nie.”

Nosworthy sê daar moet iewers geld gevind word om meerdagkrieket weer op o.19- en moontlik ook o.17-vlak op die been te bring. KSA moet ook na die keuringsproses en talent-identifisering op junior vlak kyk.

“Ek is betrokke by Gauteng se junior krieket en weet wat in die stelsels aangaan wat die identifisering van talent betref. Ek kan met sekerheid sê ons kies nie die regte seuns nie.

Ashwell Prince, die Cobras se afrigter.

“Die keurders wat in sommige gebiede is, het nie die regte vaardighede en kennis nie. Die regte stelsels en databasis wat seuns al vanaf o.14-vlak monitor, is ook nie in plek nie.

“My ervaring in Nieu-Seeland het gewys wat ’n databasis kan doen om talent te ontwikkel. Hulle het ’n databasis van spelers gehad wat terugdateer na o.10-krieket. Dis die verskil, jy volg die seuns se vordering.

“Ek weet ons het meer spelers as in Nieu-Seeland, maar hul stelsels is beter. Hul nasionale span vaar so uitstekend omdat hul stelsels so goed is.

“Dit gaan daaroor om die regte rolspelers in plek te kry. Ons gebruik nie die regte mense nie.”

Ashwell Prince, die Cobras se afrigter, het ’n veeghou gemik na skolespelers en -spanne wat skolekrieket belangriker as senior provinsiale krieket ag.

“Ons moet ’n manier vind om ons skoolseuns te toets. Meer as wat hulle getoets word wanneer hulle teen hul eie portuur speel,” het Prince vandeesweek by Nuweland gesê.

“Hulle vaar goed en oorheers teen hul eweknieë. As jy 14 en 15 jaar oud is en seuns van jou ouderdom oorheers, wat’s die punt dan? Daar was ’n voorval die seisoen waar ’n speler gevra is om vir die WP se senior provinsiale span te speel, maar hy wou vir Bishops teen Rondebosch speel.

o.19’s vou wéér teen dra

Goeie draaiers is nou maar net een te veel vir die Suid-Afrikaanse o.19-krieketspan.

Die jong Proteas is gister met vier paaltjies deur die Wes-Indiese Eilande in Potchefstroom geklop in die uitspeelstryd om die vyfde plek in die Wêreldbekertoernooi vir o.19-spanne. Suid-Afrika is vir 143 uitgeknikker. Die draaiers Ashmead Nedd (2/18 in 10 boulbeurte) en Matthew Patrick (2/12 in 6.2 bbe.) het die skade aangerig. Levert Manje (42) was die beste Protea-kolwer.

Die Windies (147/6) het die teiken in die 42ste beurt bereik. SA se kaptein en deeltydse draaier, Bryce Parsons (2/23 in 10 bbe.), het twee paaltjies gevat.

“Is ons ernstig oor waarheen ons spelers gaan? Of is Bishops teen Rondebosch belangriker as om behoorlike krieketspelers te ontwikkel omdat dit ’n ‘invloedryke’ wedstryd is. Dan hoor jy klagtes dat spelers nie geleenthede kry nie. Dis sommer tjol.

“Die soort dinge waar kinders en hul ouers kies om vir die skool eerder as die provinsie te speel, kom nie uit in die media nie. Ons moet daaroor praat.

“Daar is soveel voorbeelde wêreldwyd van jonger spelers wat teen meer senior teenstand getoets word.”

Suid-Afrika is ver agter ander krieketlande wat die kies van jong spelers op klub- en provinsiale vlak betref.

In Australië speel spelers klubkrieket (grade cricket) ongeag hul ouderdom. Junior spelers kom reeds te staan teen ervare spelers en in sommige gevalle internasionale spelers.

Afganistan se spelers word ook in eersterangse krieket geskool.

Die 18-jarige Afgaanse kolwer Ibrahim Zadran het byvoorbeeld al in twee toetse vir sy land gespeel en in 16 eersterangse wedstryde, terwyl die junior Proteas se kaptein en voorste kolwer, Bryce Parsons, nog nie een eersterangse wedstryd agter sy naam het nie.

Ook die draaier Shafiqullah Ghafari (18), wat die junior Pro­teas onlangs dronk gedraai het, het drie eersterangse wedstryde op sy kerfstok.

Meer oor:  Ashwell Prince  |  Meerdagkrieket  |  Terug  |  Skolekrieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.