Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Smith alweer Britte se Antjie Somers

Dit is dalk so dat die huidige reeks om die As eendag veral onthou sal word vir die halleluja-halfuur waarmee Ben Stokes die derde toets twee Sondae gelede gewen het – maar hierdie reeks se superster is nie mnr. Stokes nie.

Dis eerder mnr. Smith – tans die Antjie Somers van elke Engelse ondersteuners. Nie om dowe neute nie het die Sky-kommentator David Lloyd (of sommer net Bumble, vir sy ondersteuners) gister met mikrofoon in die hand rondgestap om iemand, énigiemand, te kry wat weet hoe om Steve Smith uit te kry.

Daar was toe lig aan die einde van die donker toetstonnel vir die manjifieke Steve Smith. Foto: Getty Images

ie voormalige Aussie-kaptein se Jaar in die Wildernis ná die balpeuter-onsmaaklikheid in Kaapstad is lankal diep versteek in talle geheuebanke, danksy die magdom lopies waarmee hy Joe Root se span tans dronkslaan.

Gister, op die vierde dag van die vierde toets, was dit weer hy wat ingetree het toe daar vir Engeland ’n sprankie hoop aan die begin van die Aussies se tweede beurt opgespring het.

Ná die vroeë vertrek (weer) van David Warner (0), Marcus Harris (6) en Marnus Labuschagne (11) het Australië gesteier op 24/3. Met ’n groot eerstebeurt-voorsprong van 196, ná Engeland uitgeboul is vir 301, was Australië se telling vir alle praktiese doeleindes 220/3, en kon optimistiese Britte lig in die tonnel sien as die paaltjies so aanhou val.

Maar Smith het ander planne gehad.

Vir 92 balle het hy Root-hulle terug aarde toe geruk en gebou aan ’n beurt van 82. Dit het 11 viere ingesluit en Smith het dieselfde huppel in die stap as in al sy vorige beurte in hierdie reeks gehad.

Toe hy uiteindelik terug kleedkamer toe gestuur is, ná ’n vangskoot van Stokes, het die Australiërs een hand op die As gehad.

Smith se Jaar in die Wildernis is lank reeds vergete.

Die telling was 149/5, die voorsprong 345. Smith se kaptein, Tim Paine, het ingestap en ’n haastige 23 lopies van net 18 balle bygedra tot die totaal, voordat hy op 186/6 verklaar het en die Engelse ’n enorme wenteiken van 382 gestel het.

Toe Stokes-hulle voorverlede week op Headingly ’n yslike teiken van 359 gehaal het, was dit net die tweede keer ooit wat ’n span meer as 342 kon aanteken om ’n toets in Engeland te wen. Nou moet Root se span ook die derde span word as hulle die reeks om die As wil lewend hou – maar dié keer is hulle selfs meer op die agtervoet as toe.

Daar is immers reeds twee Engelse kolwers terug in die kleedkamer, met sowel Rory Burns as Root wat hul paaltjies verloor het voordat ’n enkele lopie aangeteken kon word. Met uitskeityd was Engeland op 18/2 steeds 365 lopies weg van nog ’n onwaarskynlike oorwinning, en die Aussie-boulers in ’n gevaarlike bui.

Die Britte se probleem is enorm. Hulle kan nie vandag bloot die toets probeer red nie, aangesien dit ook aan die Aussies die As sal gee.

Meer oor:  David Lloyd  |  Ben Stokes  |  Steve Smith  |  Engeland  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.