Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Smith die ‘moderne Bradman’

Is Steve Smith die moderne Don Bradman? Dís die vraag wat die Australiese media gevra het nadat dié kolwer ’n briljante dubbele honderdtal – in die vierde toets in die reeks om die As – teen Engeland op Old Trafford aangeteken het.

Steve Smith vier sy dubbele honderdtal teen Engeland.Foto: Reuters

Die legendariese Bradman het natuurlik ’n ongeëwenaarde kolfgemiddeld van 99.94 in 52 toetse tussen 1928 en 1948 gehad, maar Smith se vertonings teen hul aartsvyand maak van hom die mees effektiewe teisteraar van Engelse boulers in die moderne era.

Nadat hy die derde toets weens harsingskudding misgeloop het, het Smith se 211 lopies in Manchester sy totaal vir die reeks tot 589 teen ’n gemiddeld van 147.25 opgestoot.

Engeland se held Ben Stokes is ’n myl agter hom met 327 teen ’n gemiddeld van 81.75, wat hom in die tweede plek plaas.

Net Bradman se rekord van vyf dubbele honderdtalle is beter as Smith se drie teen die Engelse.

Net Bradman (19) en Engeland se Jack Hobbs (12) het al meer honderdtalle in reekse om die As aangeteken as Smith (11). Smith het hiermee ook vir Steve Waugh (10) verbygesteek.

“Boeke vat Bradman se grootsheid saam, daar is sepia-gekleurde dokumentêre films van sy dade en ’n museum wat sy naam het,” het Russell Goud in die Melbourne Herald Sun geskryf.

“Tot ’n liedjie is oor hom geskryf.

“Ons Steve Smith sal waarskynlik eerder ’n hutsmerk (op sosiale media) wees. Maar hoe dit ook al vasgevang word, hierdie era, hierdie vertoning van totale krieket-oorheersing, sal nog lank voortleef.”

Don Bradman van Australië in 1948 in aksie in die reeks om die As. Foto: Getty Images

Smith spog tans met vyf honderdtalle in sy laaste ses toetse teen Engeland en sy kolfgemiddeld in alle toetse teen Engeland is 65.37. Bradman is die enigste Australiese krieketspeler wat dít oortref.

Smith se vertoning op die tweede dag het Australië tot ’n totaal van 497/8 gevoer voordat hy verklaar het.

Engeland het die dag se spel afgesluit op 23/1 en is tans erg onder druk om die reeks lewendig te hou.

Bradman se rekord van 5 028 lopies in toetsreekse om die As is al 70 jaar in die rekordboeke en die 30-jarige Smith (2 615) sal waarskynlik sukkel om dié totaal in te haal, self al speel hy nog ’n paar jaar.

Nietemin is Smith sterk op pad om hom as een van die grotes te vestig, meen talle voormalige Australiese spelers.

“Ons mag dalk geskiedenis in wording beleef,” het Mike Hussey aan ESPNcricinfo oor Smith se kolfvertonings gesê.

“Ons dink niemand kan Bradman verbysteek nie. Ek dink nie hy (Smith) gaan dit doen nie, maar hy kan dalk ’n hoër standaard (in die moderne era) vestig.”

Die voormalige Aussie-kaptein Ricky Ponting het Smith as ’n “genie” beskryf.

“Om te dink hoe goed Bradman moes wees – om ’n derde beter te wees as wat Steve Smith tans is – dis belaglik,” het Ponting aan cricket.com.au gesê.

“Smith het nog vier, vyf, ses jaar van goeie krieket voor hom, wat 80 of 90 toetse kan beteken.

“Dan het hy 150 toetse agter die blad en kan hy alle soorte rekords opstel, en kom ons hoop hy doen, want die manier waarop hy tans speel, beteken hy verdien dit.” – Reuters

Meer oor:  Steve Smith  |  Engeland  |  Australië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.