Die voormalige Australiese kolwer Usman Khawaja sê Steve Smith moet weer dié land se toetskaptein word sodra Tim Paine se termyn tot ’n einde kom.

Steve Smith verlede maand in Sydney, waar die Allan Border-medalje aan hom toegeken is. Foto: Getty Images
Smith, wat byna drie jaar lank die Aussie-span aangevoer het, is van die kapteinskap gestroop en vir twee jaar lank uit alle leierskapsrolle geskors ná sy betrokkenheid in die berugte skuurpapier-skandaal in ’n toets teen Suid-Afrika in 2018.
Smith se leierskapsverbod het reeds verlede Maart verstryk, maar dié meesterkolwer is sedertdien oor die hoof gesien vir enige kapteinskapsrolle in witbal- en toetskrieket.
“As Steve Smith Australië se kaptein wil wees, dink ek moet die rol weer aan hom toegeken word,” het Khawaja, Queensland se kaptein, Vrydag aan verslaggewers in Brisbane gesê.
“Hy’s ons nommereen-kolwer, hy was voorheen kaptein, hy’t geboet vir sy foute en daar’s geen rede waarom hy nie weer vir die kapteinskap oorweeg behoort te word nie, sou hy dit wil doen.”

Usman Khawaja glo Steve Smith moet weer ’n kans kry as Australië se toetskaptein. Foto: Getty Images
Paine het die mantel by Smith oorgeneem toe laasgenoemde deur sy land se beheerliggaam geskors is en onder sy leiding het Australië in 2019 die As behou nadat die wegreeks in Engeland met 2-2 gelykop geëindig het.
Maar Paine se aandele het onlangs dramaties geval en hy het sterk onder kritiek deurgeloop ná Australië tuis in ’n toetsreeks teen Indië vasgeval het. Baie kenners meen die 36-jarige Paine moet van die kapteinskap onthef word sodat hy uitsluitlik op sy pligte as paaltjiewagter-kolwer kan fokus.
Die snelbouler Pat Cummins is tans die toetsspan se onderkaptein en daar is ook al in Australië bespiegel dat die gebore Suid-Afrikaner Marnus Labuschagne ’n toekomstige kandidaat is vir die kapteinskap, al het hy nog net 18 toetse op sy kerfstok.
Die Australiese keurders het sover enige vrae oor Smith en die kapteinskap netjies gesystap.
Smith, wat onlangs met ’n derde Allan Border-medalje vereer is as die land se voorste manskrieketspeler, het verlede maand aan verslaggewers gesê dat die kapteinskap “nie op sy radar is nie” en dat die kwessie buitendien buite sy hande is. – Reuters