Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Smith moet vinnig spring ná aanstelling
Graeme Smith, die voormalige Protea-kaptein, is tydelik aangestel as die nasionale beheerliggaam se direkteur van krieket.Foto: Getty Images

Krieket Suid-Afrika (KSA) het nog ’n halwe tree in die regte rigting gegee met Graeme Smith wat die pos as die nuwe direkteur van krieket aanvaar het.

Dit is egter net ’n halwe tree aangesien Smith net tydelik in die pos aangestel is.

Ná weke van woelinge in die KSA is Jacques Faul Saterdag as die waarnemende uitvoerende hoof aangestel in die plek van die geskorste Thabang Moroe.

Faul het Woensdag in Kaapstad met Smith (38) vergader waar hy en die voormalige toetskaptein tot ’n vergelyk gekom het.

KSA het in ’n verklaring bevestig dat Smith die pos sal vul tot en met die begin van 2020 se Indiese Premierliga (IPL).

KSA het in ’n verklaring bevestig dat Smith die pos sal vul tot die begin van 2020 se Indiese Premierliga (IPL).

Hy het reeds kontraktuele verpligtinge as kommentator in dié reeks. Dié T20-toernooi word tradisioneel in Maart en April of April en Mei gespeel, wat beteken dat Smith in werklikheid tot die einde van die huidige krieketseisoen aan die stuur sal wees.

Na verneem word hoop die KSA-base dat Smith die pos van direkteur ná die IPL heeltyds sal vul.

Smith gaan egter onmiddellik aan die werk moet spring. Engeland se toetsgroep land Saterdag in Johannesburg en Suid-Afrika het nog nie ’n sameroeper van die keurkomitee aangestel nie en daar is ook groot onsekerheid of Enoch Nkwe, die waarnemende afrigter van die Proteas, weer die leisels sal neem.

Jacques Faul, waarnemende uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

Faul het bevestig Smith moet die besluite oor die afrigtingspan en die keurders neem en dat dit so gou moontlik gedoen moet word.

Gerugte doen intussen die ronde dat Mark Boucher, die Titans-afrigter, Smith se gunsteling vir dié rol is.

Jacques Kallis se naam is ook as ’n kolfkonsultant genoem. Smith het lank saam met Boucher en Kallis gespeel.

Smith moet vinnig werk, aangesien die eerste toets teen Engeland op 26 Desember in Centurion begin.

“Ek is baie bly om Graeme se aanstelling te bevestig. Graeme het natuurlik sekere bekommernisse die laaste paar maande gehad. Ek is egter bly te kan sê ons het dít oorkom en ek sien daarna uit om saam met hom te werk,” sê Faul in die verklaring.

“Graeme is statisties gesproke die suksesvolste toetskaptein in die geskiedenis. Hy is ’n natuurlike leier en sy kennis van die spel is aan niemand s’n ondergeskik nie. Om hom aan boord te hê om te help met die bestuur van beroepskrieket, sowel as ons toevoer van toekomstige spelers, is ’n reusehupstoot vir krieket in die land.”

Om hom aan boord te hê om te help met die bestuur van beroepskrieket, sowel as ons toevoer van toekomstige spelers, is ’n reusehupstoot vir krieket in die land.
Jacques Faul

Smith het gesê dat hy verskeie kere beklemtoon het dat hy vir KSA wíl help in die moeilike tyd.

“Ek is so passievol soos altyd oor SA krieket en ek sien uit daarna om te begin in die nuwe pos. Daar wag baie harde werk en doelwit is om ’n positiewe invloed in my tyd in die pos te maak,” sê Smith.

Faul se vergadering met Smith was egter nie sy enigste agenda-item vir die dag nie. Faul sou ook later Woensdag met die Spelersvereniging (Saca) vergader het om die proses te begin om verhoudinge tussen dié partye te herstel.

KSA en Saca is steeds in ’n hofgeskil gewikkel oor die herstrukturering van beroepskrieket in Suid-Afrika. Netwerk24 verneem dat KSA se lederaad, wat uit die 14 provinsiale presidente bestaan, Vrydagaand besluit het om nie die beoogde herstrukturering te herroep nie, maar bloot nou met Saca daaroor te praat.

Saca het juis KSA hof toe gesleep omdat hulle nie gekonsulteer is oor die besluit nie en KSA ook nie tersaaklike inligting daaroor wou beskikbaar stel nie.

Meer oor:  Graeme Smith  |  Jacques Faul  |  Johannesburg  |  Krieket  |  Ksa  |  Uitvoerende Hoof  |  Direkteur Van Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.