Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Smith nie suur oor peuteraar se ligte straf

Steve Smith, die voormalige Australiese kaptein wat ’n jaar lank uit internasionale krieket geskors is weens sy aandeel in die balpeutery-skandaal in Suid-Afrika verlede jaar, sê dit skeel hom min dat ’n speler van die Windies slegs vier wedstryde gaan misloop weens dieselfde oortreding.

Steve Smith in die oefennette in Brisbane. Die eerste toets in die reeks teen Pakistan begin Donderdag daar. Foto: Getty Images

Smith is om kommentaar genader nadat Nicholas Pooran daaraan skuldig bevind is dat hy met die bal gepeuter het in ’n onlangse eendagwedstryd teen Afganistan.

Die Internasionale Krieketraad (IKR) het hom gevolglik vir vier wedstryde geskors.

Smith het in April verlede jaar, tydens die toets teen Suid-Afrika op Nuweland, erken dat Cameron Bancroft met sy en David Warner (die destydse onderkaptein) se goedkeuring skuurpapier gebruik het om die toestand van die bal te probeer verander.

Smith is aanvanklik deur die IKR net vir ’n toets geskors, maar Krieket Australië (CA) het die saak in ’n veel ernstiger lig beskou en hom, Warner en Bancroft toe lang skorsings uit internasionale en plaaslike krieketkompetisies opgelê. Smith en Warner is ook gestroop van hul leierskaprolle.

“Almal is verskillend, elke krieketraad verskil in hoe hulle sekere kwessies hanteer,” het Smith Maandag in Brisbane gesê.

“Persoonlik het ek die hou op die ken gevat . . . dit is wat dit is. Dit voel nie of ek ingeloop is nie. Dit behoort tot die verlede. Ek het aanbeweeg en fokus op die huidige.”

Die Windies-kolwer Nicholas Pooran is onlangs aan balpeutery skuldig bevind. Foto: Getty Images

Smith het selfs ’n kompliment vir Pooran, saam met wie hy verlede jaar T20-krieket in die Karibiese Premierliga gespeel het, uitgedeel.

“Hy’s ’n talentvolle speler met ’n blink toekoms. Ek dink hy sal leer uit sy fout en aanbeweeg met sy loopbaan. Hy gaan nog ’n uitstaande speler in witbalkrieket word.”

Smith is intussen met 25% van sy wedstrydgeld beboet nadat hy verlede week in ’n Sheffieldskild-wedstryd vir Nieu-Suid-Wallis sy ontevredenheid met ’n beslissing deur een van die skeidsregters te kenne gegee het.

“Ek maak steeds foute, soos almal. Ek is maar net menslik,” het Smith hieroor gesê.

* Smith sal van Donderdag af weer ’n sleutelspeler vir Australië wees wanneer sy toetsreeks teen Pakistan in Brisbane begin. Dié lopievraat se heldedade met die kolf het die Aussies vroeër vanjaar in Engeland gehelp om die As te behou nadat hulle die reekslouere met die gasheernasie gedeel het.

– Reuters

Meer oor:  Toetskrieket  |  Eendagkrieket  |  Steve Smith  |  Balpeutery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.