Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Só lei Elgar Proteas in nuwe era in

’n Proses wat rondom ’n vuur in die Suid-Afrikaanse maanlig begin het, het Maandag op een van die sonnige Karibiese Eilande dividende begin lewer.

Mark Boucher, die Protea-afrigter, het ná sy span se skoonskip-reekssege met 2-0 oor die Wes-Indiese Eilande gepraat oor die ommeswaai in sy span se lot.

“Voordat ons hierheen gekom het, het ons in Pretoria rondom ’n vuur gesit en die nuwe kaptein (Dean Elgar) het taai vrae gevra oor waarheen ons op pad is en wie ons wil wees,” sê Boucher.

“ ’n Paar eerlike gesprekke het daar uitgekom, soos wat maar die geval rondom ’n Suid-Afrikaanse vuur in die aand is. Almal het ingekoop by ’n proses waarmee Dean wou hê ons onsself moet belyn.

Mark Boucher, die Protea-afrigter, sê daar is ál meer tekens dat hul harde werk agter die skerms besig is om dividende te lewer. Foto: Gallo Images

“Op die veld moet jy goed vertoon, maar baie moeite moet ook agter geslote deure gedoen word – hoe ons oefen, hoe ons met mekaar praat.

“Dit het by daardie vuur begin en sedertdien dryf ons dit, saam met sekere goed waarop ons verlede jaar (by ’n kultuurkamp) in Skukuza besluit het oor ons spankultuur.

“Die spelers het daar met ’n waardestelsel vorendag gekom en nou dryf ons dit. Dit is waarskynlik waarom die span gelukkig lyk en ons goeie vertonings gelewer het.”

Hy sê die spelers het besluit om weer vir mekaar te speel. Die uiteinde was die span se eerste oorwinning in ’n wegreeks sedert begin 2017.

Boucher sê hy sal homself nie as “verlig” bestempel nie, maar hy is bly dat die harde werk agter die skerms al hoe meer vrugte afwerp.

Dean noem dit dalk vervelig, ons sê dit is net gedissiplineerde krieket. Maar die taal wat hy met die spelers gebruik, vind ooglopend aanklank.
Mark Boucher

“Ek sê al ’n geruime tyd ons werk aan ’n paar tegniese goed en om ons spelers se vaardighede te verbeter en ek dink ons het dít nou begin sien.”

Elgar lê klem daarop dat die span, soos hy dit stel, “vervelige krieket” moet speel.

“Dean noem dit dalk vervelig, ons sê dit is net gedissiplineerde krieket. Maar die taal wat hy met die spelers gebruik, vind ooglopend aanklank,” sê Boucher.

Statistieke uit die reeks:

Meeste lopies:

237: Quinton de Kock (gemiddeld van 118.50)

125: Rassie van der Dussen (62.50)

88: Jermaine Blackwood (22.00)

87: Dean Elgar (29.00)

Meeste paaltjies:

11: Kagiso Rabada (gemiddeld van 11.45 lopies per paaltjie)

9: Keshav Maharaj (12.44); Kemar Roach (17.88)

8: Lungi Ngidi (13.25); Anrich Nortjé (19.62)

“Die plan is om druk te kan absorbeer en dit dan later te kan toepas. Die ouens raak slimmer en besef wanneer om te absorbeer en wanneer om die druk te laat oplaai. Ons het dit in dié reeks gedoen, met die kolf en met die bal.

“Dit was ’n ware spanvertoning. Daar was goeie individuele vertonings, maar daar was ook vertonings van individue wat nie noodwendig groot tellings behaal het nie, maar op kritieke tye deel was van belangrike vennootskappe in baie taai toestande.”

Voorbeelde daarvan is Kyle Verreynne se vennootskap met Elgar in die eerste beurt van die tweede toets. Hy het wel net 27 lopies aangeteken, maar hul vennootskap van 87 lopies het die Proteas gered nadat hulle op 37/3 gesteier het. Keegan Petersen het net 44 lopies in die reeks aangeteken, maar was ook deel van twee klein maar waardevolle vennootskappe.

“Ons het daaroor gepraat om in groot oomblikke beter te speel en dít het ons gedoen,” sê Boucher.

“Dit gaan oor ’n proses en selfvertroue. Ons het goed begin onder Dean se leierskap. Dit gaan goed op die oomblik, maar ek sien uit na wanneer ons onder druk geplaas word, om te sien hoe ons dan reageer.”

• Die T20-reeks van vyf wedstryde begin Saterdag in Grenada.


Meer oor:  Mark Boucher  |  Dean Elgar  |  Proteas  |  Windies  |  Wes-Indiese Eilande  |  Toetskrieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.