Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Só wil Proteas se Big Vern onthou word
Vernon Philander groet vir een laaste keer. Foto: Reuters

Vernon Philander wil onthou word as iemand wat altyd álles vir sy land gegee het.

“Dit is al waarvoor jy kan vra. Ek het alles op die veld gelos. Ek het geen verwyte nie,” het dié 34-jarige naatboul-towenaar van die Proteas Maandag ná sy laaste toets gesê.

Hy groet die langstew weergawe van die spel ná 64 toetse waarin hy 224 paaltjies teen ’n briljante gemiddeld van 22.32 lopies per paaltjie geneem het.

“Dit was ’n emosionele paar weke, want ek het geweet ek gaan dié omgewing groet en my spanmaats vaarwel roep.”

Sy afskeid was ongelukkig g’n sprokie nie.

Hy kon weens ’n dyspierbesering slegs 1.3 boulbeurte in Engeland se tweede kolfbeurt van die laaste toets in Johannesburg afstuur.

Die Engelse het dié toets boonop met 191 lopies gewen en die reeks sodoende met 3-1 beklink. Dit moet egter geen glans van Philander se roemryke loopbaan steel nie.

Philander moes immers veg vir alles wat hy in die spel gekry het.

Dié oudleerling van Ravensmead High was nie in ’n erkende krieketskool nie, maar sy grootwordjare het vir hom ander vaardighede geleer.

“As jy van my tipe agtergrond kom, leer jy oorlewing. Jy vind altyd ’n manier, ondanks die toestande. Van waar ek vandaan kom, moet jy eenvoudig ’n weg vind.”

As jy van my tipe agtergrond kom, leer jy oorlewing. Jy vind altyd ’n manier, ondanks die toestande. Van waar ek vandaan kom, moet jy eenvoudig ’n weg vind.
Vernon Philander

Hy moes ook ’n weg vind om doeltreffend te wees sonder uitermatige spoed.

“As jy nie die vaart het nie, het jy ander vaardighede nodig. Ek was gelukkig, want toe ek begin het, kon ek leer by ouens soos Charl Willoughby, Alan Dawson en Charl Langeveldt, wat almal vaardige boulers is,” sê Philander, wat die bal op ’n tiekie kan plaas.

“Ek kon my nering op ’n unieke wyse beoefen. Jy leer deur die jare hoe meer bestendig jy is, hoe meer sukses sal jy behaal, ongeag jou spoed.

“Dit is belangrik dat ons vir jong spelers daardie vaardighede leer en nie net hamer op spoed nie. Om die bal van die naat af te beweeg, of te swaai deur die lug, maak van jou ’n goeie bouler.”

Hy moes ’n paar jaar op die plaaslike toneel deurbring, maar toe hy sy buiging uiteindelik maak, in 2011 teen Australië op Nuweland, was hy duidelik tuis op die toetsverhoog.

Die Proteas is in daardie toets vir 96 in hul eerste beurt uitgeboul nadat Australië ’n eerstebeurttelling van 284 opgestapel het.

Almal het gedink dit is neusie verby, maar Philander het ander planne gehad. Hy het met boulsyfers van 5/15 in sewe beurte die Aussies se ruggraat uitgeruk en die besoekers is vir 47 uitgeboul. Suid-Afrika het die toets met agt paaltjies gewen.

En daardie toets. . . Hoe ons op die agtervoet was en sake omgekeer het, was spesiaal. Dis ’n toets wat ek vir altyd sal onthou.
Vernon Philander

“Dit is baie spesiaal om jou toetsbuiging te maak. En daardie toets. . . Hoe ons op die agtervoet was en sake omgekeer het, was spesiaal. Dis ’n toets wat ek vir altyd sal onthou.”

Hoewel hy voortaan vir Somerset in Engeland gaan speel, wil Philander eendag weer terugploeg in Suid-Afrikaanse krieket.

“Ek sal graag weer betrokke wil wees, dalk in ’n mentorskapsrol. Daar is nog nie duidelike planne hoe dit gaan werk nie.”

Hy weet ook daar is tans moeilike tye in Suid-Afrikaanse krieket, maar die gety sal draai.

“Dit is nou die begin van ’n nuwe generasie en jy moet mense toelaat om hul voete te vind. Eers dan sal die wiele begin draai.”

Meer oor:  Vernon Philander  |  Ravensmead  |  Kaapstad  |  Uittrede  |  Proteas  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.