
Farhaan Behardien
Suid-Afrika se krieketspelers is besig om goed keelvol te raak vir die voortslepende drama wat in die raadsale afspeel.
Nadat die krieketspelersvereniging (Saca) Vrydag in ’n verklaring sy “misnoeë en ongeloof” uitgespreek het oor Krieket Suid-Afrika (KSA) se besluit om nie minister Nathi Mthethwa se tussentydse raad te erken nie, het prominente spelers ook hul frustrasie op Twitter uitgespreek.
“Sonder die spelers is daar geen spel wat ons almal so liefhet nie. Die spelers is in die gedrang. Ek doen ’n beroep op die lederaad om na die toekomstige generasie spelers om te sien,” het die oud-Protea Farhaan Behardien getwiet.
Henry Davids, nog ’n oud-Protea, was opsigtelik ontstoke en het selfs sy twiet met ’n kwaaigesiggie-emoji afgesluit.

Henry Davids
“Soms moet jy verby persoonlike kwessies kyk, wat ook al dit is, en na die groter prentjie kyk . . . wat krieket is! Maak krieketbesluite asseblief en asseblief kyk verder as julself! Die spel sal altyd groter as jy wees!”
Saca sê in sy verklaring die lederaad het KSA nou in konflik met die minister gebring, wat ’n verwoestende invloed op die spel kan hê.
“Ons is terug waar ons begin het. Ons het aan die lederaad geskryf en gesê hulle verontagsaam die welstand van die spelers met dié besluit,” sê Andrew Breetzke, die uitvoerende hoof van Saca, in die verklaring.
“Eiebelange en politiek word steeds bo die belange van krieket geplaas.
“Dit lyk asof die lederaad nie die omvang van die skade besef wat krieket aangedoen word nie.”