Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Sportminister kap Engelse uitjouers

Nigel Adams, Brittanje se minister van sport, het Dinsdag die uitjouery wat die Australiese krieketspeler Steve Smith tot dusver in die krieketreeks om die As in Engeland moes verduur as “onsmaaklik” beskryf.

Smith, ’n staatmaker vir die besoekers in die eerste twee toetse, sal die verbale teistering gespaar wees in die derde toets op Headingley, wat Donderdag begin.

Hy is in die eerste beurt van die tweede toets op Lord’s deur ’n giftige opslagbal van die sneller Jofra Archer neergevel.

Ofskoon hy na behandeling later voortgekolf het, was hy nie in die tweede beurt in aksie nie, met Marnus Labuchagne wat so die eerste kolwer-plaasvervanger in toetskrieketgeskiedenis geword het.

Daar is Dinsdag ná ’n opvolgondersoek besluit dat Smith nie in die derde toets sal speel nie, weens simptome van harsingskudding.

Smith was tot dusver die steunpilaar in die Aussie-kolforde, met beurte van 142 en 144 in die eerste toets, wat die aanvoorwerk vir Australië se sege gedoen het.

Steve Smith lê op die naat van sy rug nadat ’n opslagbal van Jofra Archer hom neergevel het. Hy is kort hierna van die veld af, maar het later teruggekeer en 92 lopies aangeteken. Foto: Getty Images

Hy het ook, ondanks die kopskoot, in die tweede toets die besoekers se bas gered met ’n telling van 92. Dié toets het onbeslis geëindig.

Ondanks sy heldedade met die kolf, het Smith telkemale onder Engelse uitjouers deurgeloop vir sy aandeel in verlede jaar se omstrede balpeuter-skandaal teen Suid-Afrika op Nuweland.

Dit het so erg geraak dat dit Adams genoop het om in die openbaar sy misnoeë met die gedrag van Engelse ondersteuners te uiter.

Ofskoon die meerderheid van die skare op hul voete was ná sy puik beurt van 92 op Lord’s – dit nadat Archer se opslagbal hom 40 minute lank van die veld gedwing het – was daar steeds ’n klomp mense wat hul misnoeë met hom gewys het.

“Dit is so dat die meeste mense hom toegejuig het, maar daar was steeds mense wat hom uitgejou het,” het Adams aan The Sydney Morning Herald gesê.

“Dit was swak smaak, om die minste te sê. Die spelers wat by die balpeuterskandaal betrokke was (Smith, David Warner en Cameron Bancroft), het almal hul straf uitgedien.

“Smith, spesifiek, is ’n manjifieke kolwer en hoewel ek uit die aard van die saak nie wil sien hoe hy té veel lopies teen Engeland opstapel nie, kan ’n mens nie anders nie as om hom te bewonder.

“Hy is ’n uitstekende kolwer en as ware sportliefhebbers moet ons hom toejuig, nie uitjou nie,” sê Adams.

Labuschagne sal in alle waarskynlikheid in Smith se plek vir die derde toets aantree nadat hy sy geleentheid op Lord’s aangegryp het met ’n beurt van 59. Dit het boonop gehelp om die onbesliste uitslag af te dwing. - Reuters

Meer oor:  Harsingskudding  |  Opslagbal  |  Steve Smith  |  Uitjouery  |  Reeks Om Die As  |  Engeland  |  Australië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.