Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Sri Lanka maak soos Smith, McKenzie

Moet niks in krieket as vanselfsprekend ervaar nie.

Angelo Mathews vier Dinsdag sy 100-tal teen Nieu-Seeland met ’n klompie opstote, terwyl sy kolfmaat Kusal Mendis bystaan en applous lewer. Foto: Getty Images

Dít was die wyse woorde van die Nieu-Seelandse draaier Ajaz Patel nadat Sri Lanka se kolwers Dinsdag in Wellington ’n unieke prestasie teen hulle behaal het in dié spanne se eerste toets.

Sri Lanka het die derde dag kniediep in die knyp op 20/3 begin en moes nog 276 lopies opstapel om ’n beurtnederlaag af te weer. Om sake vir die besoekers te vererger was Nieu-Seeland se snelboulers Tim Southee, Trent Boult en Neil Wagner goed uitgerus en was die bal nog net 12 boulbeurte oud.

Wat tóé gebeur het, het niemand sien kom nie.

Die Sri Lankaanse duo van Angelo Mathews (117*) en Kusal Mendis (116*) het albei vasgeskop en in ’n onoorwonne vennootskap van 246 lopies om die vierde paaltjie gedeel. Wat dié vennootskap nog meer merkwaardig maak, is dat dit die eerste keer sedert Februarie 2008 is dat ’n volle dag se spel in ’n toets plaasgevind het, sonder dat ’n paaltjie geval het.

Die laaste twee kolwers wat dít kon vermag, was Suid-Afrika se Graeme Smith en Neil McKenzie teen Bangladesj ’n dekade terug. In daardie toets het Smith en McKenzie die beurt vir die Proteas geopen en die eerste dag van die toets op 405 sonder verlies afgesluit.

Patel het ná Mathews en Mendis se marathonpoging gesê krieket is ’n snaakse spel wat jou aan die agterstewe byt as jy te veel aanneem dat sekere dinge gaan gebeur.

Danksy Mathews-hulle se kolfwerk het Sri Lanka die vierde dag op 259/3 afgesluit en het hulle skielik nog ’n kans om dié toets te red wat Nieu-Seeland oor die eerste drie dae geheel en al oorheers het.

Nadat Sri Lanka vir 282 in sy eerste beurt uitgeboender is, het Nieu-Seeland met ’n yslike 578 geantwoord.

Daar word nou ook gesê dat reën nog ’n beslissende sê op die laaste dag se spel op die Basin Reserve kan hê, maar dit sal die Sri Lankaanse kolwers Woensdag loon om nie hul hoop op die reëngode te vestig nie. 

Telkaart.

– Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Neil Mckenzie  |  Graeme Smith  |  Toetskrieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.