Sri Lanka se Australiese veldwerkafrigter Steve Rixon (65) sal as die toerspan se afrigter in die T20-reeks teen Suid-Afrika waarneem.

Steve Rixon. Foto: Gallo Images
Die hoofafrigter, Chandika Hathurusingha, het Donderdag gehoor hy moet Saterdag ná die toerspan se laaste eendagwedstryd na Sri Lanka terugkeer.
Dit is volgens islandcricket.lk om met die breier te beraadslaag oor sy planne vir die Wêreldbeker-toernooi. Sri Lanka het sy laaste ses eendagwedstryde verloor.
Hathurusingha is sedert Desember 2017 Sri Lanka se afrigter ná die welslae wat hy met Bangladesj behaal het.
Die snelbouler Suranga Lakmal, wat in die toetsreeks betrokke was, is terug in die T20-span.
Die bybreker Jeffrey Vandersay is ook herroep.
Die drie T20-wedstryde word in Kaapstad (19 Maart), Centurion (22 Maart) en Johannesburg (24 Maart) beslis.
Sri Lanka se T20-groep: Lasith Malinga (k), Niroshan Dickwella, Avishka Fernando, Sadeera Samarawickrama, Kusal Mendis, Angelo Perera, Dhananjaya de Silva, Kamindu Mendis, Priyamal Perera, Thisara Perera, Suranga Lakmal, Isuru Udana, Asitha Fernando, Akila Dananjaya, Jeffrey Vandersay, Lakshan Sandakan. – Sportredaksie