Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Sri Lanka veg terug ná Root 200 haal

Joe Root het ’n meesterlike dubbele honderdtal voltooi om Engeland in beheer van sake in hul eerste toets teen Sri Lanka te hou – maar die eilandspan het self nie daarna in sak en as gaan sit nie.

Joe Root voorverlede maand tydens Engeland se toer na Suid-Afrika. Foto: Getty Images

Root, die Engelse kaptein, het die eerste dag in Galle met 66 lopies afgesluit, ná Dag 2 met 168 agter sy naam gaan slaap en Saterdag voortgemarsjeer tot 228.

Hy het die 32 lopies wat nodig was vir die vierde dubbele honderdtal van sy loopbaan reeds binne die eerste uur ná die aanvang aangeteken en by verre die grootste bydrae in die toeriste se totaal van 421 gelewer.

Sy monsterbeurt het uiteindelik ná 321 balle en meer as agt ure in die middel geëindig toe die draaibalbouler Lasith Embuldeniya hom van Dilruwan Perera se boulwerk uitgevang het. Teen daardie tyd het Root egter die derde hoogste telling ooit deur ’n besoekende bouler in Sri Lanka opgestapel, met net die Kiwi Stephen Fleming (274* in 2003) en die Windies se Chris Gayle (333 in 2010) beter.

Sy paaltjie was Engeland se laaste om te val, en het die besoekers met ’n baie gesonde eerstebeurt-voorsprong van 286 lopies gelaat.

Die Sri Lankane se eerste beurt was foutbesaai en het net 135 lopies opgelewer, en ’n herhaling daarvan sou ’n baie vroeë einde aan die Galle-aksie beteken het.

Die gasheer was egter nie vir daardie idee te vinde nie, soos Lahiru Thirimanne (76*) en Kusal Perera (62) in ’n groot openingsvennootskap van 101 lopies gewys het.

Teen uitskeityd was Thirimanne saam met Embuldeniya (0*) voor die penne, met Sri Lanka op 155/2.

Op ’n kolfblad wat baie hulp aan die draaiboulers verleen, het die Britse draaiers Dom Bess en Jack Leach min vreugde gehad. In die 33 boulbeurte wat die twee afgestuur het, het net een paaltjie geval (dié van Mendis in Leach se 20ste boulbeurt) en was die lopietempo gesond vir die Sri Lankane.

Daar is ’n tikkie druk op die Engelse draaiers, met Moeen Ali wat uiteindelik ná 13 dae uit kwarantyn is en moontlik gereed kan wees wanneer die tweede toets Vrydag begin. Dit sal dalk sweet verg vir hom om wel sy plek in die span te verseker, maar Bess en Leach het dit nietemin in hul agterkoppe dat iemand moontlik vir hom sal moet plek maak. – TeamTalk, Sportredaksie

Meer oor:  Sri Lanka  |  Joe Root  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.