Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Statebondspele wink vir vrouekrieket

Dit sal ’n inspuiting vir vrouesport in Suid-Afrika wees as vrouekrieket by die program vir 2022 se Statebondspele ingesluit word.

Die Protea-vrouekrieketspan in Mei tydens ’n wedstryd teen Pakistan in Benoni. Foto: Gallo Images

Só sê Hilton Moreeng, afrigter van die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan, nadat die Statebondspele-federasie (CGF) vrouekrieket as ’n nuwe sport benoem het om deel van die program te wees in 2022 se toernooi in Birmingham, Engeland.

Die besluit moet nog bekragtig word deur die lede van die CGF, nadat die Internasionale Krieketraad (IKR) ’n voorlegging moes doen oor hoekom krieket deel van die Statebondspele moet wees.

“Ek dink dit is ’n goeie geleentheid en dit sal help om vrouesport te bevorder. Ons het nou juis gesien met die vroue wat aan die Wêreldbeker-sokkertoernooi deelgeneem het, hoeveel belangstelling daar is,” sê Moreeng.

Hy vermoed dat indien krieket die groen lig kry, dit in die T20-formaat beslis sal word.

“Dit sal ook vir meisies wat hoop om die sport in die toekoms as ’n beroep te beoefen, wys dat daar geleenthede is.”

Luidens ’n nuusverklaring van die IKR is die aansoek deel van sy groter ambisie om groter geleenthede vir vroue wat aan sport deelneem, te bied.

Dit sal ook vir meisies wat hoop om die sport in die toekoms as ’n beroep te beoefen, wys dat daar geleenthede is.
Hilton Moreeng

Krieket was tevore, in 1998, deel van die Statebondspele. Toe het Suid-Afrika se mans die goue medalje gewen deur Australië in die eindstryd te klop.

Suid-Afrika se span het destyds bekende spelers soos Shaun Pollock, Andrew Hudson en Jacques Kallis tot sy beskikking gehad. Australië het self die dienste van brekers soos Adam Gilchrist, Ricky Ponting en die Waugh-broers, Steve en Mark, gehad.

Pollock het toe die span aangevoer in wedstryde wat oor 50 boulbeurte beslis is. Tog was krieket sedertdien nie weer deel van die Statebondspele nie.

Manu Sahney, uitvoerende hoof van die IKR, sê in die verklaring hy is verheug oor die benoeming.

“Ons is daartoe verbind om die spel se groei te versnel en grense en vooroordele oor geslag af te breek. Die platform om in Birmingham in 2022 deel te neem, sal ’n inspuiting vir vrouekrieket wees.”

Meer oor:  Statebondspele  |  Vrouekrieket  |  Shaun Pollock  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.