Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Steve Smith: ‘Almal in SA was nog net gaaf’

Toe hy by sy hotel in Sandton instap, het Steve Smith ’n terugflits van twee jaar gelede gekry.

“Ek het vlugtig gedink toe ek laas by hierdie hotel weg is, was dit nie mooi (tonele) nie. Dit was nie die beste tyd in my lewe nie. Maar ek het aanbeweeg,” het Smith, een van die beste kolwers in wêreldkrieket, Woensdag by die Wanderers in Johannesburg gesê.

Steve Smith net nadat hy sy paaltjie in die Wêreldbeker-toernooi teen Suid-Afrika verloor het. Foto: Getty Images

Maart 2018 was inderdaad nie die beste tyd in die voormalige Aussie-kaptein se lewe nie. Hy is saam met David Warner en Cameron Bancroft huis toe gestuur weens die balpeutery-skandaal in die derde toets van daardie reeks teen Suid-Afrika in Kaapstad.

Smith en Warner het albei ’n skorsing van ’n jaar uitgedien, Bancroft een van nege maande. Eersgenoemde twee is nou vir die eerste keer terug in Suid-Afrika vir ’n reeks van drie T20-wedstryde en drie eendagwedstryde. Die aksie begin Vrydagaand met ’n kitswedstryd in Johannesburg.

“Dit het nie goed geëindig toe ek laas hier was nie, maar ek het ook lekker herinneringe daaraan om in Suid-Afrika te speel, so dis lekker om terug te wees,” sê die 30-jarige Smith.

Sedert sy terugkeer het Smith goeie krieket by die 2019 Wêreldbeker-toernooi in Engeland gespeel en daarna bykans bomenslike kolfpeil in die reeks om die As getoon. Weg van die veld het hy ook gegroei.

Nou gaan dit net daaroor om weer die spel te geniet. Ek is nou al ’n jaar terug en dit voel of ek goed speel. Nou sien ek uit na die reeks.
Steve Smith

“Ek het baie geleer in die laaste twee jaar. Ek het geleer om dit (die spel) nie te ernstig op te neem nie en om dit te geniet,” sê Smith. Daar was ’n siening dat die balpeutery-skandaal die voortvloeisel van ’n Aussie-ingesteldheid van wen ten alle koste was. Sedertdien het ’n nuwe afrigter, Justin Langer, ingekom en die spankultuur verander.

“Nou gaan dit net daaroor om weer die spel te geniet. Ek is nou al ’n jaar terug en dit voel of ek goed speel. Nou sien ek uit na die reeks,” sê Smith.

Die Suid-Afrikaners met wie hy tot dusver te doen gehad het, het hom nog nie aan die skuurpapier-episode herinner nie.

“Oral waar ek was, was die mense baie vriendelik. Ons was (Dinsdag) by ’n skool, Pumla-skool, en dit was ’n ongelooflike ervaring. Dis ’n ongelooflike plek om heen te toer.

“Ons was ook by ’n paar restaurante waar mense baie gaaf was. Mense het my genader en foto’s geneem, so dit was maar net soos wat dit nog al die kere was wat ek hierheen getoer het.”

Daar gaan sonder twyfel ’n vyandige houding van die toeskouers wees, dis so op die beste van tye. Ek kom dit regtig nie agter nie, veral as ek kolf, dan blok ek dit alles uit.

Hy weet wel dit gaan verander sodra hy op die veld stap. Die “Bullring” is juis berug vir die ondersteuners wat Suid-Afrika se teenstanders al hul dae gee. Vra maar vir die Engelsman Ben Stokes, wat onlangs tot sy groot ontsteltenis met die popsanger Ed Sheeran vergelyk is deur ’n ondersteuner by die Wanderers.

“Daar gaan sonder twyfel ’n vyandige houding van die toeskouers wees, dis so op die beste van tye. Ek kom dit regtig nie agter nie, veral as ek kolf, dan blok ek dit alles uit.

“Dalk ’n bietjie as ek veldwerk doen, maar selfs dan beïnvloed dit my nie. Dis net woorde. As mense iets wil sê, goed so. As hulle niks sê nie, ook goed so.

“Ek sal in die buiteveld veldwerk doen. Ek sal glimlag en waai en saamspeel. Dit gaan pret wees.”

Meer oor:  Steve Smith  |  Proteas  |  Australië  |  Krieket  |  T20
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.