Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Steyn in Kaap om fiksheid op te skerp

Dale Steyn is teruggestuur Kaap toe om aan sy kondisionering te werk sodat hy slaggereed kan wees om toetskrieket te speel.

Mark Boucher, afrigter van die Titans se krieketspan, het Woensdag by SuperSport-park in Centurion gesê die hoofdoel is om Steyn nou gereed te kry om sy toetsloopbaan te hervat.

Dale Steyn vroeër vandeesmaand vir die Titans in aksie in die T20-reeks. Foto: Gallo Images

Hy het in die Titans se laaste drie wedstryde in die plaaslike T20-reeks sy terugkeer ná net meer as ’n jaar gemaak en het juis, nadat hy die afgelope Sondag 2/16 in sy vier beurte teen die Cape Cobras geneem het, gevra om nie in watte toegedraai te word nie en meer boulkans gegun te word.

Steyn sal egter nie Vrydagaand vir die Titans in Benoni teen die Dolphins speel nie, want volgens Boucher moet daar nou na die groter prentjie gekyk word en dít is om seker te maak Steyn is op sy beste vir die toetsreekse vroeg volgende jaar hier op tuisbodem teen Indië en Australië.

“Deur hom net elke keer vier boulbeurte te laat boul, gaan hom nie sterk genoeg kry om 20 boulbeurte op ’n dag van toetskrieket te boul nie,” sê Boucher.

“Daarom is daar besluit hy moet nou eers Kaap toe gaan en vir ’n tyd lank daar aan sy kondisionering en kragwerk aandag gee om sterk te word om langer skofte op ’n dag te boul,” sê hy.

Steyn sal binnekort weer deel van die Titans se T20-groep wees.

Ottis Gibson, nasionale afrigter, het dit duidelik gemaak dat sodra Steyn reg is, hy met ope arms in die toetsspan verwelkom sal word.

Dit kan dalk selfs so gou as die eerste dag-aand-toets en in Suid-Afrika vanaf 26 Desember in Port Elizabeth teen Zimbabwe wees. Dié toets sal ook oor net vier dae beslis word.

Die teiken waarna egter gemik word, is die eerste toets teen Indië vroeg in die nuwe jaar op Nuweland in Kaapstad.

Terwyl Steyn stelselmatig fisiek sterker word, is die nuus oor Morné Morkel minder goed.

Hy sal volgens sy ouboet en die Titans-kaptein, Albie, glad nie in die plaaslike T20-reeks kan speel wat op 16 Desember ten einde loop nie. Hy het teen die einde van September ’n sybesering in die eerste toets teen Bangladesj in Potchefstroom opgedoen.

Die veelsydige Chris Morris boul al volstoom in die nette, maar sal eers volgende week oorweeg word om sy terugkeer vir die Titans te maak.

Vir Dean Elgar, wat vanjaar die voorste lopiemaker in toetskrieket wêreldwyd is, is daar ook nog nie plek in die Titans se sterbelaaide T20-span nie.

“Dit is ’n moeilike situasie om vir Dean plek te kry, want dan sal ek iemand soos AB (de Villiers) moet weglaat,” het Boucher kopskuddend gesê.

Elgar het goed gekolf in die netoefening en ’n paar lustige houe geslaan.

“Ek kan maar net doen wat ek glo ek moet om die span te haal en aan almal wys ek het die bedoeling om die bal ver te slaan en met aggressie te kolf in hierdie formaat,” het Elgar gesê, terwyl die frustrasie by hom sigbaar was dat hy nie speelkans kry nie.

Meer oor:  Dale Steyn  |  Titans  |  T20  |  Toetskrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.