Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Stokes en WB-sterre ontvang eerbewyse
Ben Stokes in aksie vir Engeland in die Wêreldbeker-eindstryd teen Nieu-Seeland. Foto: Getty Images

Ben Stokes en verskeie van sy spanmaats wat vir Engeland die Wêreldbeker (WB)-kriekettoernooi help wen het, is op Brittanje se Nuwejaarsererol vereer.

Twee groot krieketgeeste van die Wes-Indiese Eilande, Clive Lloyd en Gordon Greenidge, is tot ridder geslaan.

Die veelsydige Stokes het die Orde van die Britse Ryk (OBE) ontvang na hy in Julie op Lord’s 84 onoorwonne lopies in die eindstryd teen Nieu-Seeland gemoker het.

Hy het hierna ook ’n onoorwonne 135 op Headingley aangeteken om ’n oorwinning met een paaltjie oor Australië in die derde toets in die reeks om die As vir Engeland te verseker.

Die lenige Engelsman is vroeër ook as die BBC se Sportpersoonlikheid van die Jaar aangewys.

Eoin Morgan, Engeland se kaptein in die WB-toernooi, is met ’n CBE (Bevelhebber van die Orde van die Britse Ryk) vereer. Dis een rang onder ridderskap.

Die paaltjiewagter Jos Buttler en die span se voorste lopiemaker en toetskaptein, Joe Root, is as Lede van die Orde van die Britse Ryk (MBE) vereer.

Om die WB-toernooi te kon wen was ’n droom wat bewaarheid is. Die pryse wat hierna gevolg het, beteken baie vir ons
Eoin Morgan

“Ek is baie trots op die CBE-verering,” sê Morgan.

“Om die WB-toernooi te kon wen was ’n droom wat bewaarheid is. Die pryse wat hierna gevolg het, beteken baie vir ons.”

Lloyd, die speler wat die aanvoorwerk vir deesdae se kanonkolwers gedoen het, is tot ridder geslaan vir sy bydrae op en van die krieketveld. Hy het ’n 100-tal gemoker in die eindstryd van die heel eerste WB-toernooi toe die Windies in 1975 vir Australië op Lord’s geklop het. As kaptein het hy die Windies in ’n uiters gevaarlike span in die 1970’s en 1980’s omskep.

Clive Lloyd (Getty Images)
Clive Lloyd (Getty Images)

Sir Clive, soos hy ná dese bekend sal wees, het lank vir die graafskap Lancashire gespeel en die 75-jarige woon steeds in Manchester, tuiste van Old Trafford.

Die voormalige Windie-aanvangskolwer Greenidge was ’n sleutelfiguur in die suksesvolle Lloyd-era. Sy ridderskap kom ná ’n versoek hiervoor deur die regering van Barbados, waar hy gebore is, aan die Britse koningshuis.

Benewens sy kolfbydraes vir die Windies, insluitende twee 100-talle op Old Trafford en ’n onoorwonne dubbele 100 op Lord’s in 1984, het hy as Hampshire-staatmaker uitgeblink. - supersport.co.za; Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.