Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Engeland moet Warner se tande trek

David Warner, die Australiër wat verguis is oor sy aandeel in krieket se opspraakwekkende balpeutery-skandaal verlede jaar, sal die grootste bedreiging vir Engeland inhou in die reeks om die As wat Donderdag in Birmingham begin.

Ben Stokes kan Engeland se troefkaart wees in sy veldtog om die As by Australië terug te wen. Foto: Getty Images

So sê die 32-jarige Ben Stokes, wat glo dat Engeland van meet af aan die druk op die hotklou-buks met die breë kolf moet laai.

Warner, die gewese Aussie-kaptein Steve Smith en Cameron Smith speel al drie vir die eerste keer weer toetskrieket sedert die skuurpapier-bom in Maart verlede jaar in die toets teen die Proteas op Nuweland gebars het.

Dié drie se terugkeer sal Australië se kolflys aansienlik versterk, maar Stokes glo Warner is die een wat die sleutel vir die Aussies hou.

“Warner is ’n speler wat ’n wedstryd eiehandig buite jou bereik kan plaas,” het Stokes in ’n onderhoud met The Times in Brittanje gesê.

“Hy is ’n fenomenale kolwer en uiters ’n gevaarlike aanvangskolwer. As ons hom aan bande kan lê en daarvan weerhou om sy stempel op gebeure (in die eerste toets) af te druk, gaan dit met die oog op die res van die reeks ’n groot pluspunt vir ons wees.

“Ons wil niks op ’n skinkbord weggee vir enige van hul kolwers nie en wil hulle goed laat verstaan dat ons doodernstig en desperaat is om weer die As te herwin.”

Engeland sal in sy skik wees daarmee dat dié reeks op Edgbaston begin, want hy het dit die afgelope twee dekades in ’n fort omskep. Trouens, die Engelse het in 2001 laas in Birmingham ’n toets teen die Aussies verloor.

Warner en sy mede-skuldiges in die balpeutery-skandaal kan hulle staal vir ’n kil ontvangs van die tuisskare en Stokes sê die Engelse gaan op die veld ook nie meer verwelkomend wees nie.

“Die eerste oggend van enige reeks is van kritieke belang, want dis dán wanneer jy met kolf of bal dadelik jou gesag wil afdwing. Jy kan nie ’n reeks om die As voel-voel begin nie. Wanneer jou voete die grond tref, moet jy dadelik hardloop.

“As jy sterk kan begin op die eerste oggend, kan dit jou dikwels in ’n goeie ritme vir die res van die toets en selfs die reeks ook plaas,” het Stokes gesê.

David Warner is volgens Ben Stokes die Australiër vir wie Engeland se krieketspan die ligste moet loop. Foto: Getty Images

Dié veelsydige speler, wat met die kolf uitgeblink het in die onlangse Wêreldbeker-eindstryd, het die vorige reeks om die As (in 2017-’18 in Australië) misgeloop weens sy betrokkenheid in ’n geveg buite ’n nagklub in Bristol.

Sy terugkeer vir dié reeks sal die balans van Engeland se span dramaties verbeter en sy vermoë om die gang van ’n toets met kolf of bal te verander, sal goud werd wees vir die Engelse.

Hy sal ook sy deel doen as ’n leiersfiguur in die span en is as Joe Root se adjudant vir dié reeks aangewys.

Hoewel Australië sedert die balpeutery-debakel hard probeer om sy beeld te poets, glo Stokes die Aussies sal ’n gedaanteverwisseling ondergaan sodra hulle die veld Donderdag betree.

– Reuters

* Die eerste dag se spel op Edgbaston begin om 12:00 en word regstreeks op SS 2 uitgesaai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.