Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Stokes Engelse se ‘Mr Incredible’
Ben Stokes is nou die voorste veelsydige speler in toetskrieket. Foto: Getty Images

Die bestuur van Engeland se krieketspan is op hete kole oor die fiksheid van hul superster Ben Stokes voor die derde en beslissende toets teen die Wes-Indiese Eilande, wat Vrydag op Old Trafford begin.

Die spanne trek tans met 1-1 gelyk ná Stokes se kolfwerk die grondslag gelê het om die tweede toets te wen, al is ’n hele dag se spel weens reën verloor.

Stokes het altesaam 254 lopies in die wedstryd gemoker en het ook drie paaltjies laat kantel. Hy het egter nie aan die einde van die laaste dag geboul nie, nadat hy skynbaar ’n dyspierbesering opgedoen het.

Daar is nie twyfel dat Stokes wel sal speel in die wedstryd nie. Hy is immers Engeland se beste kolwer, maar met twee toetse teen Pakistan net om die draai, sal daar moontlik nie van hom verwag word om te boul nie.

Dít sal egter ’n terugslag wees, aangesien hy ’n bouler is wat op kritieke tye deurbrake kan bewerkstellig.

Engeland se kaptein, Joe Root, kon ná die tweede toets nie uitgepraat raak oor Stokes nie.

“Hy is ‘Mr Incredible’,” het Root aan Reuters gesê in verwysing na die gespierde sprokiesprent-karakter van die animasiefliek The Incredibles.

“Hy lyk ook effens soos hy,” het Root geskerts.

Stokes het nou dieselfde statuur in Engelse krieket as wat Ian Botham in die vroeë jare tagtig gehad het.

Hy is ’n speler op die absolute kruin van sy vermoëns en hy lewer uitstekende vertonings wedstryd ná wedstryd.
Joe Root

Ofskoon hy slegs drie paaltjies laat kantel het in die toets, het hy Sondag die belangrikste een geneem toe hy die vennootskap tussen Shamarh Brooks en Jermaine Blackwood verbreek het.

“Hy is ’n speler op die absolute kruin van sy vermoëns en hy lewer uitstekende vertonings wedstryd ná wedstryd,” sê Root.

• Stokes is beloon vir sy uitstekende vertoning deur die eerste plek oor te neem by Jason Holder op die Internasionale Krieketraad se ranglys vir veelsydige spelers.

Stokes het ook die hoogste posisie van sy loopbaan (3) op die ranglys vir toetskolwers ingeneem.

Bykomende bron: Reuters

Meer oor:  Joe Root  |  Ben Stokes  |  Old Trafford  |  Engeland  |  Manchester  |  Wes-Indiese Eilande  |  Krieket  |  Reeks  |  Windies  |  Toets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.