Ben Stokes het een strafpunt teen hom gekry en is met 15% van sy wedstrydgeld beboet ná sy vloek-tirade Vrydag op die eerste dag van die laaste toets tussen Engeland en Suid-Afrika in Johannesburg.

Ben Stokes loop teleurgesteld van die veld. Foto: Getty Images
Stokes is aan ’n vlak-een-oortreding van dié beheerliggaam se gedragskode skuldig bevind, het die Internasionale Krieketraad (IKR) Saterdag in ’n verklaring gesê.
Hy het ’n toeskouer toegesnou: “Kom sê dit vir my buite die stadion, jou f****n vieroog-k*nt”.
Dít nadat ’n middeljarige toeskouer glo vir Stokes gesê het hy lyk soos die rooikop-popsanger Ed Sheeran nadat Stokes sy paaltjie vir twee lopies verloor het.
Die Engelse veelsydige speler het ’n verklaring uitgereik waarin hy om verskoning gevra het vir sy gekruide taal.
“Terwyl ek die veld verlaat het, is ek aanhoudend uit die paviljoen gekoggel,” het Stokes in ’n verklaring geskryf.
“Ek erken ek het onprofessioneel opgetree en ek vra opreg om verskoning vir die taal wat ek gebruik het, veral vir die baie jong kykers wat dit op die uitsending gehoor het.”
Stokes het geen ander strafpunte op sy rekord nie en het die straf aanvaar.
Die Engelse paaltjiewagter Jos Buttler het vroeër in die reeks ’n strafpunt gekry nadat hy gekruide taal in die toets in Kaapstad gebruik het.