Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Stokes ‘kruip weg’ agter geheueverlies

Die Engelse krieketspeler Ben Stokes het Vrydag in die hof gesê hy het met God gepraat oomblikke voor hy verlede jaar in ’n straatgeveg buite ’n Bristol-nagklub betrokke geraak het.

Ben Stokes / Foto: Getty Images

Die 27-jarige Stokes staan tereg op ’n klag van bakleiery nadat hy Ryan Hale (27) en Ryan Ali (28) tydens die onderonsie op 25 September platgeslaan het.

Hale is Donderdag op dieselfde aanklag vrygespreek.

Stokes was Vrydag vir die tweede dag in die getuiebank. Hy het aan die hof gesê hy het nie kwaad geraak en beheer verloor nie, maar tog erken dat hy nie alles van die betrokke aand kan onthou nie weens “beduidende geheueverlies”.

Die gebeure buite die Mbargo-nagklub is met ’n kringtelevisie-kamera opgeneem. Dit wys hoe ’n uitsmyter, Andrew Cunningham, Stokes toegang tot die nagklub weier, maar volgens die krieketspeler dui dit nie aan dat hy op die deurman geskree het nie.

“Ek dink nie jy kan sê of ek kwaad was of nie,” het Stokes onder kruisverhoor volgehou.

Ek dink nie jy kan sê of ek kwaad was of nie.
Ben Stokes

Stokes het in ’n stadium opgekyk boontoe en iets gesê.

Toe die aanklaer Nicholas Corsellis, hom gevra het waarna hy gekyk het, het hy gesê: “Ek mag dalk net na die naglug gekyk het.”

Corsellis wou weet met wie hy toe gepraat het.

“God?” het Stokes geantwoord.

“Mnr. Stokes, jy sit voor die jurie en probeer jou aksies toesmeer. Jy was kwaad en die beeldmateriaal wys jy is kwaad, nie waar nie?” wou Corsellis weet.

Stokes het Donderdag aan die jurie gesê hy het die betrokke aand minstens 10 drankies gehad. Hy het ’n bier ná die wedstryd, twee of drie pinte lager by die hotel en toe vyf of ses vodka- en limonadedrankies geniet terwyl hy uit was in Bristol.

Hy het Vrydag gesê hy het ook “moontlik ’n paar Jagerbombs gehad” by die klub.

Die krieketspeler sê hy het tussenbeide getree omdat Ali en Hale homofobiese aanmerkings teenoor twee gay mans, William O’Connor en Kai Barry, gemaak het, maar hy kan nie onthou wat die woorde was nie. Hy sê hy kan nie al die besonderhede presies onthou nie, maar dis nie omdat hy besope was nie. – independent.co.uk, bbc.com, sport24

Meer oor:  Bristol  |  Nagklub  |  Krieket  |  Ben Stokes  |  Bakleiery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.