Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Stokes wéér deur Wisden as beste vereer

Die Wisden Almanack, krieket se gesaghebbende ‘Bybel’, het die Engelse veelsydige speler Ben Stokes vir die tweede opeenvolgende jaar as die beste manspeler ter wêreld aangewys.

Die Engelse krieketster Ben Stokes. Foto: Getty Images

Stokes het in sewe toetse in 2020, ’n seisoen wat byna deur die Covid-19-pandemie lamgelê is, die meeste lopies aangeteken (641 teen ’n gemiddeld van 58). Hy was ook sewende op die lys van die voorste paaltjievrate met 19 teen ’n gemiddeld van 18,73.

Boaan die lys van toetsboulers vir 2020 is die Engelsman Stuart Broad (38 paaltjies teen 14,76). Die Nieu-Seelanders Tim Southee (30 teen 17) en Kyle Jamieson (25 teen 14,44) is onderskeidelik tweede en derde.

ESPNcricinfo berig Wisden maak daarvan melding dat Stokes die prys gekry het te midde van ’n groot persoonlike tragedie: Sy pa, Ged, is in Desember oorlede.

Hy het ook die Wisden-eerbewys in 2019 gekry toe hy Engeland aangespoor het tot ’n Wêreldbekersege teen Nieu-Seeland en ’n merkwaardige As-oorwinning teen Australië op Headingley.

Die Aussie-aanvangskolwer Beth Mooney is as die beste vrouespeler vereer.

Beth Mooney van Australië. Foto: Getty Images

Sy is as Speler van die Toernooi by die afgelope T20-Wêreldtoernooi aangewys en haar onoorwonne 78 van 54 balle het die gasheer gehelp om Indië voor 86 000 toeskouers in die eindstryd op die MCG te klop. Sy was ook die voorste lopiemaker in die Big Bash T20-liga vir vroue.

Wisden se jaarlikse vyf krieketspelers van die jaar is aan die Windies se Jason Holder, Pakistan se Mohammad Rizwan, Dom Sibley en Zak Crawley van Engeland en die veteraan Kent-speler Darren Stevens toegeken.

Die reëls oor dié eerbewys bepaal dat ’n speler dit net een keer in sy loopbaan kan ontvang en daar word klem gelê op vertonings in die Engelse seisoen.

– Sportredaksie

Meer oor:  Beth Mooney  |  T20  |  Toetskrieket  |  Wisden  |  Wisden Almanack  |  Eendagkrieket  |  Ben Stokes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.