Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Streepbal-swakpunt kniehalter SA

’n Goeie streepbal duik blitsig en akkuraat na die onderkant van ’n kolwer se paaltjies, soos ’n swartmamba wat toeslaan op sy prooi.

Dit neem ’n meesterlike hou om só ’n bal vir vier te slaan. Dis onmoontlik om dit vir ses te slaan. Dis so doeltreffend omdat die kolwer nie ruimte het om sy kolf onder die bal in te kry nie.

As Suid-Afrika meer streepballe in die laaste twee T20-wedstryde teen Engeland geboul het, het hulle dalk die reeks gewen.

“Sien, Lungi, dáár mik jy vir ’n streepbal.” Charl Langeveldt, die Protea-boulafrigter, beduie iets vir Lungi Ngidi tydens ’n oefening. Foto: Gallo Images

“Ons was teleurstellend met die bal, veral met die groot tellings wat ons aangeteken het. Dit was tellings wat ons moes verdedig. Dis nie goed genoeg nie,” het Charl Langeveldt, die Proteas se boulafrigter, Woensdag by die Wanderers erken. Hy is nie verkeerd nie. In die laaste vyf boulbeurte van die laaste twee wedstryde, het Suid-Afrika ’n gemiddeld van 15.7 lopies per beurt afgestaan.

In Durban het hulle 79 lopies in die laaste vyf beurte gelek, want hulle het nie eens probeer streepballe boul nie. In Centurion het Engeland 65 lopies in die laaste 4.1 beurte onderweg na die groot wenteiken gemoker. Toe het Suid-Afrika gepoog om streepballe te boul, maar dit nie reggekry nie.

’n Streepbal is ’n moeilike kalant – plant jy hom ’n tree te vol, verander dit in ’n sappige volbal. Laat jy die bal ’n voet te kort grond vat, is dit nommerpas vir ’n dryf- of sloeghou. Die kolwer moet net in die regte rigting swaai om vir die toeskouers veldwerkoefening te gee.

“Centurion is ’n ongenaakbare veld, as jy jou lengte verkeerd kry, gaan jy gestraf word,” sê Langeveldt.

Maar hy weet die boulers sal moet verbeter, want by die T20-Wêreldbeker (T20-WB) later vanjaar in Australië gaan hulle nêrens kom met sulke swak doodsnik-boulwerk nie. Hy hoop dus vir nog druksituasies waarin hulle hul vaardighede kan slyp wanneer die reeks van drie T20’s teen die Aussies Vrydag op die Wanderers begin.

“Jy kan in die nette oefen, maar dit gaan oor daardie druk. Die ouens kom nie gereeld in daardie situasies in plaaslike krieket nie en dit bekommer my.

“Dit gaan ook oor die nuwe era van krieket waar ouens liewer op hul variasies wil staatmaak onder druk. Dis die maklike opsie. Die moeilike bal is steeds om jou streepbal reg te plant.

“Dis nou al jare wat ons probeer om boulers te help om hul streepballe onder druk te kan boul. Dis soms moeilik om dit vir iemand te leer, want hy moet dit in die middel uitvind. Jy kan wel vir hom die nodige gereedskap gee.”

Almal kán ’n streepbal boul, sê Langeveldt. Dit gaan net oor bestendigheid, veral as die wedstryd daarvan afhang.

“ ’n Ou soos (Sisanda) Magala het baie selfvertroue daarmee, hy is baie kalm onder druk.”

Magala sou sy Protea-buiging teen Engeland gemaak het, maar kon nie aan die fiksheidstandaarde voldoen nie. Hy is ook nie in die groep vir die reeks teen Australië nie.

“Lungi (Ngidi) kan streepballe plant, maar dit gaan ook oor selfvertroue.

“Andile (Phehlukwayo) kon altyd ’n streepbal boul, maar het weer teruggegaan (om liewer variasies te boul). Hopelik kan hy dit terugkry.

“Jy oefen elke dag jou lengtes. Jy kan ook aan jou streepballe slyp, want dit gaan oor wanneer jy die bal uit jou hand loslaat.”

Doodsnik-boulwerk is nie beperk tot streepballe nie. Ngidi het die eerste wedstryd teen Engeland in Oos-Londen met goeie stadige balle in die doodsnikke vir Suid-Afrika gewen. Dis wel belangrik dat die kolwer weet jy kán ’n streepbal boul, wat sy groottoon kan breek.

“Op verskillende blaaie, sal dit ander tipe aflewerings wees wat werk. Soms moet jy stadige balle boul. Dit is ook ’n vaardigheid, om die toestande reg op te som.”

Langeveldt is verheug dat Kagiso Rabada terug is vir dié reeks nadat hy ’n blaaskans van ’n maand gehad het. Rabada sal ’n verskil in die doodsnikke maak. Hy was verlede jaar die naasvoorste paaltjievraat in die Indiese Premierliga. Baie van sy slagoffers is met blitsige streepballe geëis.

Meer oor:  Charl Langeveldt  |  Lungi Ngidi  |  Proteas  |  Australië  |  Krieket  |  T20
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.