Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Anderson nog nie gereed om uit te tree

Engeland se grootste paaltjievraat in toetskrieket, James Anderson, sê hy oorweeg dit nog nie om uit te tree nie, maar gee wel toe daardie besluit kan uit sy hande geneem word as sy spelpeil nie binnekort verbeter nie.

James Anderson is nie tevrede met sy huidige spelpeil nie, maar is nog nie bereid om die handdoek in te gooi as toetsspeler nie. Foto: Getty Images

Dié 38-jarige het tot dusver ’n frustrerende Engelse somer beleef en het net ses paaltjies in sy laaste drie toetse geneem. Dit het bespiegelinge laat toeneem dat sy toetsloopbaan van 17 jaar dalk tot ’n einde kan kom.

Anderson het met sy ritme gesukkel in Engeland se oorwinning met drie paaltjies oor Pakistan in die eerste toets in Manchester, maar hy sê hoewel hy teleurgesteld was met sy vertoning, het hy nog nie daaraan gedink om die spel vaarwel toe te roep nie.

“Daar is geen waarheid daarin nie. Dit is frustrerend en ek het nie ritme nie en vir die eerste keer in tien jaar het ek emosioneel geraak op die veld en dit toegelaat om my onder te kry,” het hy Maandag gesê.

“Ek dink ná een swak wedstryd is daar fluisteringe oor my toekoms, maar ek dink nie dit is regverdig nie. Ek moet net hard werk en hoop ek kan ook in die volgende toets speel.”

Anderson, wat al 590 toetspaaltjies geneem het, het vroeër vanjaar gesê hy is steeds honger om vir Engeland te speel en Maandag het hy sy begeerte bevestig om nog deel van aanstaande jaar se reeks om die As teen Australië te wees.

“Ek wil speel vir so lank as wat ek kan. As ek boul soos in die eerste toets, sal daardie besluit egter uit my hande geneem word. Dan kom dit neer op die spankeuse. Wat my betref, wil ek egter steeds speel,” sê hy.

Anderson is baie naby daaraan om die eerste snelbouler te word wat 600 toetspaaltjies neem, maar hy sê sy fokus is nie op daardie mylpaal nie.

“Dit is nie ’n groot motivering vir my nie. Ek wil goed boul en ons span help wen. As ek by 600 uitkom, sal dit fantasties wees, maar gebeur dit nie, sal ek ook tevrede wees met wat ek vermag het.”

Die tweede toets teen Pakistan begin Donderdag in die Rose Bowl in Southampton. – Reuters

Meer oor:  James Anderson  |  Toetskrieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.