Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Swart rolspelers se eis aan KSA

Swart belanghebbendes in die krieketlandskap is bekommerd omdat daar “niemand in die huidige stelsel is wat weet hoe om ’n jong swart krieketspeler te ontwikkel nie”.

Daarom het tussen 30 en 50 belanghebbendes uit die swart krieketgemeenskap Vrydagoggend op die Wanderers in Johannesburg vergader om die toekoms van swart krieket te bespreek.

Ntsongo Sibiya

Verskeie voorstelle is op dié vergadering gemaak, sê Ntsongo Sibiya, die voorsitter van die Black African Cricket Clubs (BACC). Sibiya dien ook in die Gauteng Lions se raad, maar was nie in dié hoedanigheid by die vergadering betrokke nie.

“Ons het baie swart spelers wat deur die stelsel kom, maar hulle maak dit nie altyd nie. Dit gaan nie oor vermoë nie, maar omdat die stelsel hulle nie toelaat om na die volgende vlak te gaan nie,” sê Sibiya.

“Ons sê die enigste mense wat die kwessie kan oplos, is swart mense. Ons het gewoond geraak daaraan dat mense vir ons sê wat goed is vir ons. Maar óns sal sê hoe om ware transformasie te bewerkstellig.”

Sibiya sê hulle is nie seker of Graeme Smith, wat as Krieket Suid-Afrika (KSA) se nuwe direkteur van krieket aangestel is, die dinamika van jong krieketspelers in swart gebiede verstaan nie. Smith kom van ’n bevoorregte agtergrond en was in King Edward VII School (ironies genoeg dieselfde skool waar die geskorste uitvoerende hoof van KSA, Thabang Moroe, gematrikuleer het).

Die BACC is egter geensins gekant teen ’n direkteur van krieket by KSA nie.

“Dit moet net iemand wees wat álle spelers help om deur te kom en hul potensiaal te bereik, ongeag hul agtergrond. Dit hoef nie noodwendig ’n swart mens te wees nie.”

Hulle stel voor daar word nóg ’n posisie geskep.

“Een van die sleutelaspekte wat uit die vergadering gekom het, is dat ons gaan voorstel KSA stel ’n direkteur van ontwikkeling aan.”

’n Ander voorstel is dat die hubs-stelsel, wat KSA in minderbevoorregte gebiede ingestel het, in heroënskou geneem word.

“Daar is ook ’n ernstige tekort aan geriewe in arm gebiede.”

Ek is ook baie bewus daarvan dat dit in Suid-Afrika baie sal verg van sekere lede van die swart gemeenskap om hul vertroue in ’n wit man met my agtergrond te plaas.
Graeme Smith

Die volgende stap vir dié belangegroep is om soortgelyke vergaderings in ander streke van die land te hou. Hulle beplan ook om met KSA te vergader, maar het nog nie met die nasionale beheerliggaam in verbinding getree nie.

Die groep glo die regering moet help, maar besef daar is veel groter kwessies wat nou aandag moet geniet.

“Ons moet seker maak die geld wat wel belê word, word goed aangewend.”

Sibiya sê hulle eis ook dat die KSA-raad moet bedank.

“Ons wil graag ’n vars raad sien wat op ’n skoon lei kan begin werk.”

In reaksie het Smith gesê hy verstaan dat daar onsekerheid en wantroue van sekere groepe sal wees in tye van verandering.

“Ek is ook baie bewus daarvan dat dit in Suid-Afrika baie sal verg van sekere lede van die swart gemeenskap om hul vertroue in ’n wit man met my agtergrond te plaas,” sê Smith.

“Ek kan hulle wel verseker dat ek van plan is om my beste te doen om die transformasie-agenda van KSA te bevorder en te verseker dat jong swart spelers die geleenthede kry wat hulle verdien om die hoogste vlak van die spel te bereik.”

Meer oor:  Graeme Smith  |  Suid-Afrika  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.