Die Proteas se T20-reeks teen Pakistan is in die weegskaal nadat die lugredery Emirates Vrydag al sy vlugte na en van Suid-Afrika tydelik gestaak het weens Covid-19-vrese.
Dié aankondiging het Vrydag reeds chaos in Krieket Suid-Afrika (KSA) se hoofkantoor veroorsaak, want die toetsgroep van 21 spelers moes die aand met Emirates na Pakistan vertrek. Die plan was dat die spelers uit verskeie stede in Suid-Afrika na Dubai sou vlieg, waar hulle dan saam ’n aansluitende vlug na Karachi sou haal.
Emirates se aankondiging het KSA genoop om ter elfder ure en ten duurste ’n huurvlug vir die toetsgroep te reël. Die toetsspan het Vrydagaand regstreeks tot in Karachi gevlieg, waar die eerste toets op 26 Januarie begin.
Die probleem is egter dat KSA beplan om later ’n aparte T20-groep te laat oorvlieg vir hul reeks van drie wedstryde tussen 11 en 14 Februarie. Dié groep sal nou ook met ’n huurvlug na Pakistan moet reis, wat KSA sy sak erg sal laat skud.

Graeme Smith, KSA se direkteur van krieket. Foto: Gallo Images
Rapport verneem KSA wil graag hê die T20-reeks moet voortgaan en is reeds hard aan die werk om te kyk hoe hy dit kan laat gebeur. Graeme Smith, direkteur van krieket, en Pholetsi Moseki, waarnemende uitvoerende hoof, sal glo vroeg vandeesweek met die Pakistanse Krieketraad (PCB) vergader om oor die koste van ’n huurvlug te praat.
Een voorstel was glo dat die T20-groep, wat nog nie aangekondig is nie, Vrydag saam met die toetsgroep vlieg, maar dan sou dié spelers vir drie weke in Pakistan ledig sit.
Smith-hulle is ook gretig dat Pakistan later vanjaar na Suid-Afrika moet reis vir ’n witbaltoer. Dié reeks kan KSA se geldkoffers help aanvul.