Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Tahir laat ’n draaiers-nalatenskap

Imran Tahir wou nog altyd iets agterlaat wanneer hy die dag halt roep in sy internasionale eendagloopbaan.

Daardie dag is nou om die draai en dié 40-jarige bybreekbouler weet sy voetspoor word agtergelaat op die Suid-Afrikaanse krieketlandskap.

“Toe ek hierheen gekom het, was Suid-Afrika nie seker of hy ’n draaier moet speel nie. Selfs as die Proteas in die subkontinent gespeel het, het hulle dit nie altyd oorweeg om twee draaiers te speel nie,” vertel Tahir, wat ná die Wêreldbekertoernooi in Engeland uit internasionale eendagkrieket tree.

Imran Tahir tydens een van sy kenmerkende feesvieringe vir die Proteas. Foto: Gallo Images

Tahir het die denkproses in Suid-Afrika rondom draaiers verander. Deesdae is dit bykans onmoontlik om aan ’n Protea-elftal sonder ’n draaier – gewoonlik Tahir self – te dink.

“Vandag speel ons bykans altyd twee draaiers in die subkontinent en omtrent altyd een teen ander. Ek het probeer om te wys ’n draaier kan in die middelbeurte baie goed vaar.

“Aan die begin het ek saam met ouens soos Morné Morkel en Dale Steyn gespeel en nou saam met Kagiso Rabada en Lungi Ngidi, so die kolwers val my aan, want ek kan nie 145 km/h boul nie.

“Dit is waarom ek taamlik goed kon vaar.”

Die gebore Pakistani sê dit is belangrik dat draaiers “groot harte” het as hulle in Suid-Afrika wil uitblink.

“Draaiers sukkel soms vir een of twee seisoene en dan hou hulle sommer op.

“My uitdaging was groot omdat ek die bal nie baie draai nie – ek kan nie soveel draai soos iemand soos Shane Warne kry nie.

“Maar ek wou ’n verskil maak toe ek ’n kans kry. Ek wou vir Suid-Afrika speel vir so lank as wat ek kan. Ek wou iets gedoen het wat nog nooit vantevore gebeur het nie en dit het my gedra tot waar ek vandag is.”

Ek wou iets gedoen het wat nog nooit vantevore gebeur het nie en dit het my gedra tot waar ek vandag is.
Imran Tahir

Tahir het sy eendagbuiging vir Suid-Afrika in 2011 by die Wêreldbekertoernooi in Indië gemaak.

“Ek onthou die aand voor my eerste wedstryd het ek niks geslaap nie. Ek het vir ’n uur geslaap en weer wakker geword en die volgende dag het ek die hele wedstryd gespeel.

“In daardie wedstryd het ek saam met AB de Villiers, Jacques Kallis en Graeme Smith gespeel. Dit was baie spesiaal, want ek het nooit gedink dit gaan gebeur nie.”

Mark Boucher
Mark Boucher

Tahir sê toe hy hom in 2007 by die Titans aangesluit het, het hy baie hulp ontvang van spelers soos De Villiers, Faf du Plessis en Mark Boucher.

Sedertdien het hy Suid-Afrika in 98 eendagwedstryde verteenwoordig, waarin hy 162 paaltjies teen ’n gemiddeld van 24.21 lopies per paaltjie en ’n treftempo van 31.1 balle per paaltjie platgetrek het.

By sy swanesang vir sy aangenome land in Engeland wil hy nog ’n paar keer op sy kenmerkende uitbundige wyse feesvier nadat hy ’n slagoffer geëis het.

Tahir het al baie krieket in Engeland gespeel en weet dus wat dit verg om sukses daar te behaal.

“Ek het al baie daar gespeel, so ek ken die toestande en dit is ’n voordeel. Dit is egter ’n nuwe uitdaging, so ek sal moet seker maak my planne is reg vir al die verskillende spanne.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.