Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Temba en Aiden die 2 perde in wedren

Temba Bavuma of Aiden Markram?

Dié twee kolwers is waarskynlik die gunstelinge om die Protea-toetskapteinskap by Faf du Plessis oor te neem.

Aiden Markram. Foto: Gallo Images

Graeme Smith, Krieket Suid-Afrika (KSA) se direkteur van krieket, het vandeesweek bevestig Quinton de Kock sal hom nie met die toetskapteinskap ook nog hoef te bemoei nie.

Daar is natuurlik ander kandidate soos Dean Elgar en Rassie van der Dussen, maar Bavuma of Markram sal straks toetskaptein nr. 37 word.

Smith, wat self in 108 toetse kaptein was, sê die probleem is dat daar nie ’n enkele speler is wat bo die ander uittroon nie. KSA sal dus “dalk ’n kans met iemand moet waag. Ek was self iemand met wie daar gewaag is, so ons sal dit oorweeg.” Smith is met die kapteinskap toevertrou toe hy 22 oud was. Daarom kan sy woorde geïnterpreteer word as ’n aanduiding dat ’n jong speler, soos Markram (25), kaptein gemaak kan word.

Maar vroeër vanjaar het De Kock iets gesê wat ’n mens laat wonder of Bavuma (29) nie dalk die voorkeurkandidaat is nie. De Kock is in Januarie as die Proteas se witbalkaptein aangewys. Hy is toe gevra of hy sy kleim vir die toetskapteinskap wil afsteek.

Sy antwoord was dalk insiggewend: “Daar is baie ouens wat ook goed voorbereid is om toetskaptein te wees. Temba was onderkaptein en nou is hy terug in die span, so sy naam sal altyd genoem word.”

De Kock het uit sy eie Bavuma se naam genoem. Bavuma geniet die agting van sy spanmaats. As hy met die posisie toevertrou word, sal hy boonop die Proteas se eerste etniese swart kaptein wees. Dit kan ’n meesterskuif wees vir ontwikkeling, soortgelyk aan die besluit om Siya Kolisi die Springbok-kaptein te maak.

Transformasiedruk sal beslis kwyn, maar ’n mens kan tereg vra of Bavuma hoegenaamd ’n plek in die span verdien. Sy toetsgemiddeld van 30.75 skree immers nee, maar dit weerspieël nie sy talent nie.

Markram, aan die ander kant, se loopbaan het in die snelbaan begin. Hy het al vier sy toetshonderdtalle binne sy eerste tien toetse geslaan. In sy volgende tien toetse kon hy nie weer ’n honderd slaan nie en sukkel veral in Asië.

Markram word wel lankal as ’n toekomstige kaptein gesien. Dalk sal dit wys wees om Bavuma kaptein te maak en Markram sy adjudant?

Hulle is natuurlike leiers en gaan ’n kernrol vir die Proteas vertolk. Ditto Elgar, wat al twee keer as kaptein ingestaan het, en Van der Dussen.

Suid-Afrika moet in Augustus in twee wegtoetse teen die Wes-Indiese Eilande gaan speel. Dié toer is weens Covid-19 in die gedrang, maar as dit voortgaan, kan Du Plessis daar wees om sy opvolger te help.

Of KSA nou vir Markram of Bavuma kies, dit gaan ’n dobbelspel wees. Smith sal hoop dat hulle weer, soos met hom in 2003, die boerpot-besluit neem.

Meer oor:  Ksa  |  Temba Bavuma  |  Aiden Markram  |  Kapteinskap  |  Proteas  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.