Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Mokermanne laat ons in die steek’

Temba Bavuma sê die Protea-kanonkolwers se onvermoë om die lopietempo in die middelbeurte te versnel, het Suid-Afrika Donderdag in Mohali die tweede T20-wedstryd teen Indië gekos.

Temba Bavuma onderweg na sy beurt van 49 lopies in die tweede T20-wedstryd teen Indië Woensdag in Mohali. Foto: AP

Indië het die Proteas gerieflik met sewe paaltjies geklop nadat die tuisspan die beskeie teiken van 150 op sy gemak kafgedraf het, met nog ses aflewerings in die bank.

Ondanks ’n goeie grondslag deur Quinton de Kock (52, 37 balle) en Bavuma (49, 43 b) het die Proteas die pad in die middelbeurte byster geraak en slegs 149/5 op ’n goeie blad bereik.

De Kock en Bavuma het die Proteas met ’n vennootskap van 57 (45 balle) tot 88/2 gevoer, toe De Kock in die 12de boulbeurt uit is.

Rassie van der Dussen (1, 2 balle) is vinnig uit en David Miller (18, 15 balle) kon glad nie aan die gang kom nie. In die vyf beurte van die 13de tot die 17de boulbeurt, is daar slegs 36 lopies aangeteken – ’n aartssonde in T20-krieket.

“Ek dink toe David in die 13de boulbeurt op nr. 5 ingestap het, was ons in ’n baie goeie posisie. Dit is miskien waar ons die bal laat val het in ons kolfbeurt,” het ’n eerlike Bavuma, wat sy T20-buiging gemaak het, ná die wedstryd gesê.

“By die middelpunt van ons beurt het ek gedink ons sal ten minste 180 kry, dit sou ’n mededingende telling wees. Maar ons het net nie aan die gang gekom nie.

“Ek is ook skuldig, ek kon nie die momentum kry nie. Ook nie die mokermanne nie en ek het gevoel die grondslag is gelê vir hulle om hul ding te doen.

“Maar dit is iets waaraan ons kan werk. Ek dink nie ons is heeltemal uitoorlê nie, daar is baie waaraan ons kan werk.”

Bavuma sê die Protea-kolwers het die Indiese boulers goed benader in die eerste 12 tot 13 boulbeurte.

“Maar daar sou altyd ’n fase wees waarin hulle goed boul. Dit is baie moeilik om 20 foutlose boulbeurte te speel.

“Hulle het ’n paar goeie boulbeurte gehad, maar ek en Quinton kon steeds ’n vennootskap bou en ons teen die 12de boulbeurt in ’n goeie posisie kry.

“Ons het die wedstryd tussen die 12de en 16de boulbeurt verloor. As ons kon voortbou op die grondslag, sou ons nie slegs ’n telling van 150 gekry het nie.

“ ’n Span van gehalte soos Indië gaan jou straf as jy so ’n swak fase het.”

David Miller stap terug nadat hy ná ’n stotterende beurt skoongeboul is. Foto: AP

Hy is nietemin in sy noppies met sy eerste T20-kolfbeurt in Protea-kleure.

“Ek is tevrede met my beurt, dit is altyd goed om tot die span by te dra. Dit het uiteraard nie veel invloed op die uitslag van die wedstryd gehad nie, maar dit was nietemin bevredigend.”

Volgens hom is dit nie moeilik vir hom, wat as ’n meerdagspeler gesien word, om in die blitsformaat aan te pas nie.

“Ek sien myself nie as ’n selfsugtige speler nie, so ek probeer die span altyd eerste stel, voor my persoonlike ambisies,” sê hy.

Bavuma is op middebaan uitgevang toe hy die tempo probeer versnel het.

Die derde en laaste T20-wedstryd word Sondag in Bengaluru beslis. Die Proteas móét wen om die reeks gelykop te laat eindig, nadat die eerste wedstryd in Dharamsala uitgereën het.

Meer oor:  T20  |  Proteas  |  Temba Bavuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.